Die dinge wat ek by julle ontvang.

Ek wou al lankal hierdie stukkie skryf. Uit dankbaarheid en eerbied aan die mense wie God in my lewe geplaas het. Want dit is hoe ek dit sien. Dat niemand van ons sommer so toevallig bymekaar beland het nie.

Ek glo dat elkeen van ons ‘n siel het wat vir altyd en altyd gaan lewe. Dis net die “waar”, wat die verskil gaan wees tussen ons. Ek glo ook dat die Vader wat ons geskep het, vir elkeen van ons net die beste bedoelings het, en ook gehad het, toe Hy lewe aan ons geskenk het. Elkeen van ons is daar  vir die mense om hom. Hier maak die gesegde, “No man is an island” vir my baie sin.

Die effek van jou lewe op myne, jou naby wees, jou dade, jou woorde, bepaal hoe ek jou sien en ervaar. Elke bydra wat jy tot my lewe gemaak het, tot dusver het ‘n invloed op dit wat ek vandag is. Hoe ek ontwikkel het, in my mensewees, hetsy fisies, geestelik of emosioneel. Alles was bepaal deur die effek wat verskillende mense wat my lewe betree het, op my gehad het. Ek kan dus kies wat ek hiervandaan, van elke ondervinding wil maak. En of ek gaan toelaat dat dit tot my nadeel, of tot my voordeel sal strek.

Daarom wil ek vandag ‘n paar goeie dinge uitlig wat ek by die mense in my lewe geleer het. Soort van ‘n ode aan julle almal. Die mense wat God gebruik het om my sover te leer en te help slyp. Vandag gaan ek nie te veel konsentreer op die wat al weg is nie. Ek gaan probeer om by een of twee goedjies te bly, wat  hulle aan betref. Ek reken die lewendes het meer nodig om te hoor wat ek wil sê.

DIE WAT AL WEG IS:

Ma: Dat daar niks is wat so erg is dat ‘n mens nie kan opstaan en aangaan nie.

Dat arm of siek mense ook ‘n positiewe bydrae tot  ander se lewens kan maak.

Dat daar mooi in die eenvoudige dinge van die lewe is.

Dat daar geen mens is wat te sleg is, om gered te word nie.

DANKIE DAT MA MY VAN MENSE EN VERGIFFENIS GELEER HET. DANKIE DAT MA MY VRIENDIN KON WORD.

Pa:

Musiek is soos medisyne;

Daar is geen yster wat nie kan luister nie.

Geduld is soos goud.

Moenie praat voordat jy nie jou woorde oorweeg het nie.

Daar is geen rede hoekom ‘n dier mishandel hoef te word nie.

Moet nooit die Here se naam ydelik gebruik nie.

DANKIE DAT PA MY VAN LOJALITEIT EN LIEFDE GELEER HET, EN MY DIE WAARDE VAN DIE GESKREWE WOORD GELEER HET. DANKIE DAT PA ALYD NA MY TOESPRAKE GELUISTER HET.

Ouma Rossouw:

Spaarsamigheid is goud werd.

Die geskiedenis van ons land is belangrik

Lekker kos, bring glimlagte na die tafel

Al is jy alleen, dek altyd vir jou ‘n mooi teetafel. Jy is dit werd.

DANKIE DAT  OUMA MY LIEFGEHAD HET, GELEER HEKEL EN BREI HET EN ALTYD VIR MY BAIE BRIEWE GEKSRYF HET.

Ouma Kate:

Ouma jy is gemmerkoekies en rooi koeldrank en biltongbroodjies en ‘n kersvlam. Jy is bosveld. Jy is ‘n coolerkamer. Jy is fyn doilies. Dankie.

Tannie Coreen

Elke mens het goeie goed in hom. Jy moet dit soek en daarop focus.

Daar is goed soos dwergies en  feetjies.

Alle kinders is welkom, maak nie saak van waar hulle kom, hoe oud hulle is of watter bydrae hulle ouers tot jou lewe kan maak nie.

Behandel alle mense dieselfde.

Die Woord is jou wapen.

DANKIE DAT TANNIE, JESUS VIR MY GELEEF HET, SONDER OM OOIT VIR MY TE PREEK. EK WOU ALTYD SOOS JY WEES.

Tannie Hermin

Die etenstafel is die plek waar families bymekaar kom.

‘n Mens kan glimlag al is als om jou onderstebo.

Jou talente mag nooit onder die maatemmer verberg word nie.

DANKIE DAT TANNIE VIR MY GEBID HET, TOE EK DIT NODIG GEHAD HET, EN DANKIE DAT JY ALTYD IN MY GEGLO HET.

DAAR WAS BAIE ANDER SPESIALE MENSE WAT MY AL VOORUIT GEGAAN HET, MAAR EK KIES VANDAG OM EERS NET BY DIE BOGENOEMDES TE BLY. WANT HULLE HET DIE GROOTSTE INVLOED IN MY KIND-WEES GEHAD.

DIE LEWENDES.

Pieter. My man.

Dankie dat jy my leer dat ‘n mens altyd ‘n plan kan maak om ‘n probleem op te los. Dat jy so baie sê dat jy my liefhet. Dat jy gou vergeet van die kwaad of die rusie. Dankie dat jy my geleer het van die veld, die see en die Weskus. Jou geaardheid het my help vorm tot selfstandige denke. Jou geaardheid het my ook geleer om nie myself eerste te stel nie. Al word ek vir jou woedend wanneer ons verby mekaar dink, of praat, weet ek dat jy my grootste aanhanger is. Dankie dat ek weet, dat jy die hele wêreld vir my sal gee, as jy net kan.

Dankie dat jy altyd spog met die dinge wat ek regkry. Dankie dat jy my geestelike sambreel is. Dat ek onder jou sorg kan skuil teen die wêreld. Dankie dat jy saam met my aanbid en glo en saam met my in die ewigheid gaan wees. Dankie dat jy ook kan wys dat jy seerkry. Dat jy nooit te trots was om aan my jou swakhede te wys of te erken nie. Dankie dat jy aan my wys dat jy my nodig het. Ek het jou baie lief.

Nadia, my oudste dogter.

Dankie dat jy my geleer het, ‘n mens kan musiek maak uit min note. Dat jy drie ornamente bymekaar sit en nie vier nie. ( Dus ook dat onewe goed mooi is, en als nie altyd presies hoef te wees nie. ) Dankie dat jy my trots gemaak het op wie jy is. Jy was nog altyd vir my so mooi. Dankie dat jy my geleer het om nie teen velkleur vas te kyk nie.  Dankie dat jy my wys dat jy my nodig het.

Dankie dat jy met so min tevrede was, toe ons dit nie breed gehad het nie. Dat jy selfstandig is en sterk en ‘n mens wat my leer van oor begin en weer begin en nooit moed opgee nie. Jy is ‘n voorbeeld van verantwoordelike sorg vir jou kinders. Jy het my geleer dat’n mens tog ook moet beplan. Dankie dat jy ‘n gee-mens is. Jou hart is mooi. Dankie dat jy jou altyd oor jou boetie ontferm het, toe julle nog klein was, en hom so lief het, dat sy leed joune geword het, al het dit jou baie misverstand op die hals gehaal. Dankie dat jy jou sussie se vriendin is. Dit gee my gemoedsrus om te weet , julle sal daar wees vir mekaar as ek die dag nie meer daar is nie.

Daar was tye in ons lewe dat jy my al opgetel het, en geleer het dat ek nie verantwoordelik gehou kan word vir die foute wat julle as volwasse kinders maak nie. Dankie daarvoor. Dankie dat jy my gewys het, dat ‘n mens kan leef met baie seer, al dra jy swaar daaraan. Ek admireer jou daarvoor.

Dankie vir die kleinkinders wat jy my gegee het, en dat jy my so ‘n groot deel van hulle lewens maak. Jy is ‘n goeie mamma en ek is baie lief vir jou.

Jaco, my seun.

Dankie dat ek so maklik aan jou kon grootmaak. Jy het my regtig nie baie grief gegee nie. Dankie dat jy so mooi na jou kleinsus gekyk het, toe julle nog kinders in die huis was, al het jy soms haar siel so ongenadiglik uitgetrek. Dankie dat ek nog altyd op jou kon staatmaak. Jy het my trots gemaak. Jou visie om eendag baie te bereik,en te werk daartoe met dit wat die Here jou gegee het, is vir my ‘n voorbeeld. Dankie dat jy wiskunde geneem het tot in matriek al wou die onnie dit nie gehad het nie. ( Jy het gewys wat in jou steek, toe ander nie in jou geglo het nie. )

Dankie dat jy my gewys het, ‘n kind kan ook getrou wees met sy tiende. Jy was vir my ‘n vreugde in daardie opsig. Dankie dat jy vandag nog altyd daar is vir my. Dat jy my toelaat om so ‘n groot aandeel in julle as gesin se lewe te speel. Dankie vir die pragtige skoondogter en kinders wat jy in my lewe gebring het. Jaco, jy het dit nie maklik nie. Vandag as ‘n grootmens moet jy deel met die verlies van jou kind se gesondheid. Om ‘n gestremde seuntjie te moet grootmaak is nie ‘n grap nie, maar jy is altyd daar vir hom en vir Elri. Jy leer my van lojaliteit en logiese denke. By jou het ek geleer om nie te emosioneel na ‘n probleem te kyk nie, maar om prakties te dink. Jy leer my van sterk wees, al wil jy nie meer nie. Van besluite neem wat sin maak en doelgerigte navolging daarvan. Dankie dat jy nooit jou bybel eenkant toe geskuif het nie, en dat jy jou wortels behou het. Ek is baie lief vir jou.

Annaline, My skoondogter.

Antjie, jy is vir my soos Rut. Ongelooflik lojaal. Sterk. ‘n Aanhouer wat vir haar skoonmoeder vreugde bring. Jy het ‘n baie spesiale plek in my hart. Dankie dat jy lief is vir my seun. Daar is te veel om oor jou lyding met julle seun te skryf. Maar dankie dat jy steeds speel en lag en daar is vir ons. Jy leer my van wysheid. omgee, sagtheid van hart. Jy leer my van beplanning, spaarsamigheid en goeie besluitneming. Jy leer my van geloof. Ek is baie lief vir jou.

Carmen, my jongste dogter.

Jy het my geleer dat dit oukei is om anders te wees. Dat daar baie dinge is om oor te lag in die lewe. Dankie dat jy my so verstaan. Jou liefde vir die kunste en vir diere en boeke en mense is so openlik, ek wonder soms waar jy plek in jou hart kry vir nog. Dankie dat jy verstaan het, dat ek jou moes alleen los by die huis om te gaan werk sodat jou ouboet en ousus geleerdheid kon gaan kry. Dankie dat jy altyd terugkom huis toe. Maak nie saak watter paaie die lewe jou geneem het nie. Jy is my gutsy dapper kind. Al is jy eintlik soms die bangste een, jy het dit nooit gewys nie. Jou komplekse persoonlikheid het my grootgemaak.  Vandag is jy een van die mense by wie ek so baie leer. Jy het ‘n manier om vir my nuwe dinge te leer sonder om my te laat voel dat ek dom is. Dankie dat jy so mooi selfstandig volwasse geword het. Dat jy altyd so familie mens is. Dankie dat jy alle ou goed in die lewe respekteer. Dat jy my sentimentele kind is. Die een wat altyd die storie in alles raaksien. Soos in ‘n ou meubelstuk. Jy maak my lewe baie interessant. Dankie daarvoor. Dankie dat jy vir my speeltyd gee in my lewe. Dat jy my laat  sing en laat lag soos wat jy alle kinders kan laat sing en lag. Daarom maak jy so ‘n goeie juffrou.

Jy het verskriklik baie talente by die Here gekry. Gee vir Hom erkenning daarvoor, en gebruik dit. Ek is baie lief vir jou.

 

My familie en vriende.

Dis ‘n briefie vir n ander dag. Die spesiales in my lewe wat altyd daar is vir my. Baie dankie.

Van ‘n dankbare vrou.

.

 

 

 

 

3 thoughts on “Die dinge wat ek by julle ontvang.

Leave a reply to Toortsie Cancel reply