Aan Herman, na die naweek. 24 Sept 2018

My liefste Herman

Na laas week se skielike afsluiting van jou vorige briefie, het dit my vreeslik bly gemaak dat ek darem vandag op ‘n meer positiewe noot aan jou kan skryf. Dit was heerlik om jou Saterdagoggend weer te kon sien, na ‘n lang tyd.

Ek moet sê, jy lyk heel goed na die laaste onverwagte vreemde uitpass aanval wat jou bygekom het. Dis net daardie slymborsie wat my hinder. Dan moet ek ook byvoeg dat die hele vallei nou oortrek is van lemoenbloeisel en alhoewel dit baie aanskoulik is en ook heerlik ruik tas die hooikoors meeste mense erg aan.

Jou ma se neus het die heel naweek vreeslik geloop en ek het gesien sy kry swaar met die hooikoors toe ons ‘n draai op die plaas gaan maak het. Daar het ons vir jou een van oupa Joepie se oulike donkies gewys. Wanneer jou pa vir my die foto aanstuur van jou by hulle, sal ek dit plaas.

Ek voel nou weer bietjie beter oor jou, en jou toestand. AS ‘n mens dit so kan noem. Dit help regtig om eerder by jou te wees. Dit is dan wanneer ‘n mens in jou oë kan kyk en die emosie daarin kan lees, of jou glimlag kan sien wanneer ons met jou praat, dat jy besef die mens in daardie hulpelose lyfie weet wat om hom aangaan en kan ook deel van ‘n lewe vorm.

Jy raak regtig baie lank. Ek het jou ‘n paar keer hanteer tewyl ons in die bakkie was, en dit is vir my al hoe moeiliker. Jy word swaarder. Die bene wat agterna sleep of sommer knoop wanneer ek jou probeer aanvat of optel, al hoe meer opsigtelik hulpeloos. Dan raak ek bang vir die tyd wat kom dat Mamma jou nie meer op haar skoot sal kan vashou om te voer nie. Jou nie meer sal kan sus soos ‘n baba, wat jy eintlik maar nog is nie. Dis dan wat ek jou sommer so teen die kant van jou kop ‘n skuins soen sal gee. Want jy is steeds Ouma se Boeboesh baba. Ek soen jou want jou vel is doeksag. Jou hare die geur van ‘n skoongewaste baba. Jy wat so vertroulik met jou groot hemelogies in myne kan opkyk, en al wat ek sien is liefde, liefde, liefde.

Ek kan hoor Mamma is moedeloos omdat jou medikasie nie juis minder raak nie. Daar kom net elke keer na ‘n groot aanval nog iets by, of iets waarvan sy jou wou speen word maar net weer ingestel. Ek wens dit het nooit met jou gebeur nie. Dan sou jou Ma en Pa hard kon lag in die huis. Jy sou nie elke keer begin huil het as een van hulle lag, of wanneer ‘n vreemde stem ewe skielik met jou praat nie. Hulle sou jou kon potty train. Jy sou die wêreld al plat gehardloop het en jou Sussie sou ‘n speelmaat gehad het. ‘ n Boetie wat nie net vir altyd baba is nie.

Ek glo en vertrou dat die eye gazor jou nog gaan help om beter te kommunikeer. Dat jy op jou eie manier vir ons sal kan aandui wat jou wil en begeertes is. Dit sal so wonderlik wees. Ek wil tog vashou aan die droom dat jy wel eendag beter sal kan beweeg. Dat jy wel eendag sal kan praat. Dat jou ouers se huwelik nie ten gronde sal gaan onder die druk wat jou versorging noodwendig meebring nie. Dat daar meer gelag en minder gestress sal word in daardie huis. Dat jou Ma of Pa nie in ‘n groef sal verval en vergeet wat dit is om self te leef nie. Dat daar baie hulp en bystand en liefde vir hulle sal wees tot die dag wat jy beter is. Ek glo en ek droom.

Vandag is ek en Oupa Pieter agt en dertig jaar getroud. Ons het nou al baie dinge in die lewe beleef. Toe ons jonger was het ons gedink as ons net eers vir ons kinders geleerdheid kon gee, sal ons gelukkig wees in die wete dat dit met hulle goed sal gaan. Nou weet ons al van beter. Ons het nou gesien dat geen geleerdheid gesondheid en geluk kan gee nie. Dat ‘n huwelik tot niet kan gaan vanwee verkeerde keuses. Dat geld nie alles kan regmaak nie. Dat ons kleinkinders kosbaar is, maar dat hulle ouers ons nou wakker hou in die nag, en nie hulle wat klein is nie. Ons kinders is nou meer as ooit ons bekommernis . Dit vat baie guts om hulle aan God oor te laat. Om in Sy vrede in te beweeg en net te vertrou dat die waarheid van Sy Gees en Sy Woord vastigheid in hulle lewens sal word en bly.

Soms tik ek myself op die vingers wanneer ek dink dat jy eintlik die beste af is van almal want jy is permanent in onskuld. Ek bid oor jou gesondheid maar ten minste hoef ek my nie te bekommer oor jou ewige siel nie. Is dit ‘n vorm van ongeloof oor jou herstel? Dalk.

Boeta, ons was nie lank bymekaar die naweek nie, maar ek het elke oomblik in my hart gebêre. Ek mis jou sussie ook want sy het op die plaas gekuier en ons het bykans niks van haar gesien nie. Dit was egter vir my genoeg om te weet dat sy gelukkig gevoel het waar sy was en hoe heerlik sy met haar maatjie gespeel het. Dis baie swaar vir Oumas en Oupas wat vêr bly want hulle mis groot stukke van hulle kleinkinders se groot word. Daarom is elke ou kuiertjie vir my baie belangrik.

Jy moet soet wees en hard oefen, my skat, dat jy jou Ouma kan verras met jou vordering.

Ek is lief vir jou.

Van Ouma Karen.

Selfs terwyl ons ry wil Herman net op die tablet met sy speletjies besig wees. Dit hou hom rustig om na musiekvideos te kyk.

 

Advertisements

3 thoughts on “Aan Herman, na die naweek. 24 Sept 2018

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s