Herman gaan skool toe.

Briefie aan Herman.

Liefste Herman

24.11.2022

Goeie môre, Boeta

Vandag het Ouma ʼn dankbare hart. Ek wil ʼn paar gedagtes met jou deel. Die jaar lê op sy rug en Ouma het nie soveel geskryf as wat ek sou wou nie. In jou lewe het ook onlangs ʼn paar belangrike verwikkelinge plaasgevind.

So paar maande gelede het die departement van onderwys jou ouers laat weet dat jy nou wettig skoolpligtig is volgens jou ouderdom. Jy is deur die genade van ons Here reeds sewe jaar oud. ʼn Getal met baie mooi bybelse waardes. ʼn Volheid. Sewe jare van gebed, vrae, opofferinge en baie lering aan ons as jou ouers en grootouers en jou familie. Aan jou kant, sewe jaar van veg, oorwinning, oefening, pyn, soms lyding. Merendeel was jy vir ons die ligdraer van die liefde van Jesus. Jy was die sout op ons aarde. Die voorbeeld van Jesusvreugde en ook die bewys dat ons hoop en geloof nie by die Vader verby gegaan het nie.

Kyk hier, Herman, die Paarl skool vir gestremdes het jou aanvaar as leerder. Kan jy glo, Boetie! Jy gaan skool toe. Hier is jou skoolklere uitgepak op die tafel.

Jy gaan in ʼn klassie met maatjies van jou ouderdom en hulle het almal ook liggaamlike probleme. Jy gaan vir die eerste keer, elke dag tussen ander kindertjies wees vir ʼn paar uur. Jy is al so gewoond daaraan om net die oppassers, en jou gesin as daaglikse geselskap te hê. Al die vreemde dinge en ʼn skielike hoes of snaakse geluid mag jou dalk ontstel, maar jy is so lief vir kinders. Ek glo dit gaan vir jou baie lekker raak daar by die skool. Shoe, Herman, wat ʼn mylpaal. Ouma is skoon in trane toe ek die foto sien waar jy jou skoolklere aanpas. So ʼn halwe bittersoet huilbui.

Sussie is sommer super trots.

Jy lyk pragtig in jou skoolklere.

Volgende jaar gaan groot logistieke aanpassing wees vir julle huisgesin. Pa se werk en ma se werk en Sussie se skool is in Citrusdal. Jou skool is in die Kaap. Hoe nou gemaak, ou seun? Mamma sê sy sal maar moet ry met jou en eers kyk hoe jy aanpas.

Ouma sê altyd, ons moet maar ʼn olifant so happie vir happie eet. Ook dat Jesus al daar was waar ons nog moet heen gaan, want hy beplan ons lewe nog voor ons geboorte. As ons in Sy wil bly sal hy alles vir ons regskuif. Daarom vetrou Ouma dat dinge sal regkom en dat daar deure sal oopgaan om julle almal ten goede te akkommodeer.

Dit is amper Kersfees. Oupa Pieter oes nog heuning. Ouma maak al in haar kop reg vir die feestyd. Jy moet skimp by jou pa dan kom julle see toe vir die nuwe jaar. Ek weet hoe graag jy met jou voete in die water sit. Mamma het nou ʼn wonderlike stoel gekry vir die bad en ook vir die swembad by die kampplek op die trappe. Jy kan daarin sit. Hy lyk amper soos ʼn karstoel maar kan heel nat raak. Is dit nie wonderlik nie. Daarmee kan jy lekker in die vlakwater sit by die klein dammetjie se poele daar onderkant Pieter Pieterse se houthuisie hier in St Helenabaai.

Ek is so bly ons kan hier woon. ʼn Mens moet ʼn plaas en ʼn see Ouma hê. Dit maak die lewe baie lekker. Ek sou graag die jaar wou saam kamp op die plaas, maar Ouma het belowe om na jou sussie se naamgenoot se troue te gaan in die Vrystaat. So ek en Oupa gaan op ʼn “road trip”. Dalk sien ek jou Kersdag.

Oe wag, ek het vergeet dat ek jou nog nie geskryf het van jou nuwe nefie nie. Jy het hom mos nou die dag persoonlik ontmoet. Giorello is vandag presies nege weke oud. Hy is te skattig met sulke mollige beentjies. Ouma druk hom net soos lekker as vir jou toe jy ʼn klein baba was. Tannie Carmen in ʼn wonderlike mamma. Ek het altyd geweet sy sal ʼn goeie ma uitmaak. Hier is ʼn foto van jou nuwe nefie. Hy het ʼn boetie met die naam, Damien. Damien ly aan outisme. Tannie Carmen is baie lief vir Damien en help hom ook baie met sy outistiese probleme. Jou seerkry en breinskade het ons gehelp om te verstaan van kindertjies wat anders is. Daarom is dit vir ons makliker om te verstaan wanneer Damien soms gilletjies los of anders optree as die normale. Dankie Boetie dat ons so baie by jou kon leer.

Jy was baie opgewonde toe julle mekaar die eerste keer gesien het. Soos gewoonlik wanneer jy by kinders kom, was jy super vriendelik.

Jy weet, Herman, toe jy so oud was, het jy nog nie breinskade gehad nie. Jou ouers het nog ander drome vir jou gekoester. Ons almal het deur so baie leerskole gegaan sedert jou agt maande baba besering. Daarom is hierdie skoolgaan ding vir Ouma deel van ʼn Godelikke wonderwerk. Jou Nefie Graeme gaan ook nou graad een toe. Groot skool toe. Eindelik gaan julle iets saam doen, anders as net by ouma kuier. Julle gaan albei in dieselfde jaar skool toe. En vir albei van julle is dit mylpale. Ons almal se lewenspaaie verskil van mekaar. Elke gesin het sy eie ‘storie’. Daarom is Ouma vandag dankbaar dat ek deel kan wees van die stories van my drie kinders en hulle kinders se lewens. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is allermins vervelig.

Ek prys die Here vir elkeen van julle ou kleingoedjies. Van Karelize af wat al vyftien is, Elri wat nege is, Jy sewe en Graeme ses. En toe kry ons nog vir Damien ook by wat nou agt is en klein Giorello wat op die 22ste September 2022 gebore is. So nou is daar ses kuikens in die kleingoednes vir wie Ouma moet bid. My werk word ook nie minder nie.

Boetie, Ouma moet nou eers groet. Ek hoop ek sien jou gou.

Baie liefde

Van Ouma Karen

Visvang is nie sommer-net nie

Landdros Pieterse sluk sy lou-warm koffie terwyl hy weer die maand-oue koerantberig voor hom spoedlees: “Duisende klein-skaal vissers trek op na die parlement in protes teen “onregverdige” toekenning van visvangregte. Wat eers as ‘n vreedsame optog begin het, het later in gewelddadige aksie oorgegaan en vele is oornag in polisieselle aangehou.”

Albin de Bruin, die aangeklaagde in saak no: A/O 33/07/22 staan met ‘n gebalde vuis hoog in die lug, sy tandlose mond wyd-oop voor in die groep op die voorblad foto.

“Die man is beslis nie gelukkig nie,” reken die landdros. Vandag se oortreding gaan egter oor einste se gebruik van ongelisensieerde toerusting. Hy gooi sy toga oor sy skouers en skud sy kop. Die afgelope ruk het sake oor onwettige vis- en kreefvangste, ‘n kopseer geword. Hy hoop nie die spulletjie ontaard weer in die hofsaal vanoggend nie. Hy ken die mense van Klippiesbaai. Wanneer hulle eers ongelukkig raak is die protes gewoonlik luid en driftig.

Soos hy vermoed het, is die hofsaal gepak.

“Staan in die hof,” roep die hofordinans terwyl landdros Pieterse sy plek in die stoel neem.

Die staandes kry weer hulle sit en die staatsaanklaer lees die klag met ‘n formele stem.

“Die staat teen meneer Albin de Bruin, edelagbare. Meneer de Bruin word daarvan aangekla dat hy kreef gevang het met ‘n boot waarvan die lisensiegelde agterstallig is en dus ook onwettig op see. Die boot het ook nie die nodige toerusting soos deur SAMSA voorgeskryf aan boord gehad nie. Alhoewel Meneer de Bruin wel onlangs vangregte toegeken is, was dit volgens die klag nie genoegsaam nie. Visvangregte mog nie toegeken word, tensy die houer daarvan wettig genommerde bote het nie. As skipper, moes meneer de Bruin toegesien het, dat hy ‘n bevoegdheidsertifikaat vir sy boot bekom. Hieraan is nie voldoen nie.”

“Ja, want hy kry onverwags regte van die staat, sonder behoorlike ondersoek!” roep ‘n stem uit die besoekersbanke. Daar druis ‘n murmurering deur die hofsaal. Die ondenans kyk kwaai na die lawaaimaker.

Landdros Pieterse besluit om die opmerking te ignoreer en vra die beskuldige om te staan.

“Wat pleit u Meneer de Bruin? Skuldig of onskuldig?”

Off-course is hy skuldig!” roep Saartjie Koopman uit die besoekersbanke. “Vang mos met permit, al lyk sy skuit hoe kak, tewyl mý seun by die huis moet sit. Of site soek op ‘n ander man se skuit, terwyl sy goed fine is. Daai issie fair nie!”   

‘n Skraal jong man spring regop. “Antie Saartjie moet nou eerder stil bly. My pa vang al jare kreef. Ses jare sit hy nou sonder permit. Noudat hy dit het, is Antie teen hom. Hoe lank moet ons nog honger ly?”

Dwa! Dwa! Dwa!  Slaan landdros Pieterse met sy hamer sodat die skuldige lawaaimakers onmiddelik weer hulle plekke inneem.

“Het die beskuldigde regshulp gekry, soos aangevra?”

“Prokureur Walters vir die beskuldigde, u edele.” ‘n Kort swaarlywige man staan steunend regop. Krap in die lêer voor hom en vee vervaard met sy sakdoek oor sy rooi gesig. “Die beskuldigde pleit onskuldig, U edele.”

Nadat Albin ingesweer en skielik baie nederig met sy seekep in die hand, in die getuiebank staan, daal ‘n stilte in die hofsaal. Almal wil hoor hoe hy dit regkry om permitte te ontvang sonder die volledige prosedure.

“Stem u saam met die aanklag teen u, Meneer de Bruin?” Vra die landdros. Hy voel jammer vir die man. Sien tog sy posisie in en besef dit gaan om brode, maar die wet is die wet en dit is waarvoor hy hier is.

“U edele ek het Saartjie Koopman se boot probeer skipper maar hulle wou nie kopgee nie. Ons kon saamwerk met my permit. Daarom het ek nie ‘n keuse gehad nie. Ek moet kos op my tafel kry en my boot is regtig nog nannas. Dis net, die geld, djou honor. Ek sit my kind deur universiteit en daar was nie die jaar geld vir die permits of survuys nie en ook nie vir die agterstallige levies nie.”

“Moenie nou kom jammergat trek nie, Albin, skreeu Saartjie weer uit die banke. Jy weet dis oor djy my klong se goed deur die gat sal trek dat ek dit nie vir jou sal gee nie. En vir wat moet Jimmie vir joú vang as hy self ‘n nice boot het, opbetaal, gesurvey en als.”

Die opstand in die banke raak harder. Duidelik het Albin sy ondersteuners en Saartjie hare.

 “Daai issie die issue nie. Hy suip sy geld uit,” roep ‘n man van agter uit die bank. “Ja, djou honor, hys ‘n wynkop. Ek wietie hoekom hy ‘n permit gekry het nie, hy vat die brood uit my kind se mond. Ek het als in plek, maar hy moet ‘n contact hê, want het hy sy permit. Daar het mos geld onder deur die tafel gegaan, dis so duidelik soos my ma se curlers op ‘n Saterdagaand.”

“My pa is g’n wynkop nie, Uncle!” roep ‘n jong man vanuit die gehoor.

 Nou krys dit deur die banke soos die baklei van meeue om ‘n stukkie snoekderm. Dit is duidelik dat die wat nie permitte gekry het nie, sterk onraad vermoed. 

Landdros Pieterse se hamer herstel weer die orde. “Indien die gehoor hulle nie kan gedra nie, sal ek julle uit die hof moet beveel,” sê hy streng. “Dit is nie die permitstelsel wat hier in gedrang is nie. Meneer de Bruin het die wet verbreek deur  met ‘n ongelisensieerde boot op die see te gaan.” Hy kyk direk na Prokureur Walters.

“Enige getuie vir die verdediging?” Vra Landdros Pieterse.  

“Die verdediging roep Meneer Hans Minnaar, edelagbare.” Prokureur Walters beur regop. Glimlag effentjies in Albin se rigting, toe díe sy plek weer in die beskuldigdebank inneem. Albin lyk merkbaar senuagtig. Vroetel weer met sy kep en kyk dan benoud na Hans Minnaar wat styf gespanne in die getuiebank ingesweer word.

Skielik verander die beteuterde Prokureur in ‘n vlymskerp aanvalswapen. Hy trek Hans Minnaar in ‘n blitzkrieg uitmekaar.

“Dit het na ondersoek onder my aandag gekom dat u met duistere motiewe die arm gemeenskap van Klippiesbaai afpers. Ek stel dit aan u, Meneer Minnaar dat u sekere vissermanne uitsonder, hulle administatief help om permitte deur seevissery te bekom, onder streng voorwaarde dat hulle slegs aan u mag kreef lewer. U bedryf dus ‘n mafiabeweging onder die vissergemeenskap.

U edele, Albin de Bruin het geen ander uitweg gehad as om met sy ongelisensieerde boot kreef te gaan oes nie. Meneer Minaar het hom in ‘n wurggreep en so ook ten minste tien ander waarvan ek weet. Indien u twyfel kan ek die naam bekend maak van die beampte, by departement seevisserye, waar hy  sy permitte uitneem. Sy sal nie twee keer dink, om na openbaarmaking, fluitjieblaser te draai nie.  Indien hulle nie by u aflaai nie, meneer Minnaar, sit hulle sonder ‘n permit!” Die prokureur lyk uitasem na sy betoog. Sy groot borskas deinend van inspanning.

‘n Verdwaasde stilte daal oor die gehoor.  Landdros Pieterse sak terug in sy stoel. Innerlik tevrede dat daar erens ‘n gaatjie in die wetsmondering ingekruip het, sodat hy versagting vir Albin kon vind. Hy gee om vir die vissergemeenskap. Het self hier grootgeword en ken hulle probleme.

Hans Minnaar verbleek en stotterend probeer hy homself verdedig.

“Ek stem nie saam nie. E … ek help die mense…as dit nie vir my was nie, het hulle…”

Skielik breek ‘n kakofonie los in die hofsaal.  Saartjie wat heftig teen Albin gekant was word nou sy borgmoer. Haar en vele ander se nuwe teiken, Hans Minnaar.

                “Dis mense soos daai donner wat dinge in ons baai kom opfok, U edele,” roep ‘n stem uit.

                “Ja! En die minister sit handegevou en toekyk hoe onse mense moet suffer hier innie Baai in!” roep Saartjie bo die lawaai. Twee groepe wat heftig teen mekaar gekant was vorm skielik ‘n eenheid met Hans as gemeenskaplike vyand.

Landdros Pieterse besluit om halt te roep voordat Minnaar aangeval word en beveel die hele spul uit die hofsaal.  Nog twee polisiemanne word ingespan om die opstandige vissermanne uit die hofgebou te begelei, waarna die landdros ernstig verklaar: “Meneer de Bruin, ek sal jou laat gaan op ‘n waarskuwing. Kry jou toerusting in orde voordat jy ooit weer op die see gaan. Die sisteem het jou in die steek gelaat.”

‘n Skraal jong man stap vorentoe en skud blad met prokureur Walters.

“Dankie, Meneer dat u my internskap by julle kantore goedgekeur het. Binnekort sal ek kan veg vir mense soos my pa en die vissersgemeenskap van Klippiesbaai.”

Klippiesbaai Nuusblad: “Bekende by Kreef fabriek, aangekla van korrupsie. Hans Minnaar in die kollig om verkeerde redes.”

“2 Augustus 2021:Minister’s Bombshell Court Application to Set Aside Small-scale Fishing Rights

On 5 March 2021 under case number 4020/21 in the Western Cape High Court, the Minister of Forestry, Fisheries and the Environment applied to the High Court to have the allocations (effectively her own decisions) of small-scale fishing rights in the Western Cape set aside on review. A shocking development on a number of levels.

(Peter Edwards 2 Augustus 2021)

Voetnota: Borgmoer: Moer wat teen ‘n ander vasgedraai word om terugdraai te keer, Veiligheidsmoer.

Levies: ‘n Bepaalde bedrag wat by seevisserye betaal word vir elke kg kreef/vis wat gevang word.

Nommers: Bote moet lisensienommers kry volgens areas en betaal vir die Nommer by seevisserye.

Survey sertifikaat: ‘n Permit wat verkry word deurdat die boot voldoen aan alle voorgeskrewe veiligheidstoerusting.

Klein skaal Permit; Toestemming deur die staat om op ‘n klein skaal kommersieël vis/kreef te mag vang en verkoop.

Site: Plek op ‘n ander persoon se boot. (Streekstaal)

Alter ego

Lucinda stap haastig met haar motorsleutel stewig in haar regtervuis vasgeklem sodat sy die sleutel se skerp staalpunt as wapen kan gebruik. Sy kyk skrikkerig rond, maar dit is slegs ‘n paar ander motors wat verwyder van mekaar tussen die pilare staan. Haar spykerhake klik-klak op die sementblad. Die klank daarvan eggo deur die half-leë onderdakparkeerarea. Angstigheid trek haar keel toe. Haar asemhaling versnel. Dit voel asof ‘n duisend oë haar dophou.

 Sy bereik haar motor sonder voorval. Die knop op haar maag begin skietgee wanneer sy bewend haar sleutel se afstandbeheerknoppie druk en hoor hoe die sluitmeganisme oopskiet. Sy pluk die deur oop en sak in die bestuursitplek neer. Sluit vinnig van binne. Dit is wanneer sy opkyk dat die gil vanself uit haar keel ontsnap.

“Die bliksem was by my kar!” kerm sy. Vinnig sluit sy die motor aan. Sien nie kans om eers uit te klim en die rooi lipstiffiewoorde van haar ruit te vee nie. Die hele pad huis toe konsentreer sy op die pad, probeer by die lipstiffie verby kyk: “Bitch!”

*

Naam: Nantes Naudé

Geslag: Manlik

Ouderdom: 39

Beroep: Eiendomsontwikkelaar

Belangstellings: Fietsry, skopboks, kampeer

Op soek na vroulike geselskap met die oog op ‘n ernstige verhouding. Ek is ‘n lewenslustige natuurliefhebber en hoop om iemand met dieselfde belangstellings te ontmoet.”

“Dit lyk onskuldig genoeg,” reken “Nantes”. Steek ‘n sigaret aan en trek die rook diep in sy longe. Hy blaas kringetjies in die lug en tik met sy vingers op die lessenaar. Nou vir die foto.

Grynsend blaai hy deur ‘n paar foto’s op sy skootrekenaar. Hierdie een? Nee, te macho. Dié een is beter. So ‘n “goeie-ou” gesig. ‘n Regte teddiebeer. Donker krulkop met ‘n stoppelbaard. Hy aktiveer sy Tinder-rekening. Trek sy vingers deur sy blonde hare, vat ‘n rekkie vanaf die lessenaar en bind dit in ‘n bokstert.

Dit was ‘n paar weke gelede. Een vir een het hulle in die bose strik getrap en berekenend het hy die foto’s deurgegaan. Met broeiende ongeduld die regte meisie uitgesoek. Die een met die grimeerlose gesig. Effe plomp, min vriende, geen verhouding.

                “Dit was alles die moeite werd,” dink hy en grinnik. Sy was tog só honger vir sy lieftallige boodskappe. Hy wens hy kon daar wees toe die “kelner” vanaand die koevert en rooi roos vir haar gegee het. Natuurlik sou sy dit oopmaak. Veral nadat hy die ou betaal het om te wag totdat dit lyk asof sy wou loop, voordat hy dit vir haar gee. Die kaartjie met die woorde in groot rooi blokletters geskryf : “Jy is myne! Teef!”

 Nantes dink selfvoldaan terug aan die weke wat hierdie aand vooraf gegaan het. Hulle ‘toevallige’ ontmoeting in die ry by Nü health in Groenpunt. Die vinnige koffie-afsprake tydens middagetes by die bank. Die gesoek na ‘n tuinwoonstel naby hare. Sy sélf was sy bron van inligting.

 Hulle vriendskap het verstewig die dag toe hy met die klein gemmerkat by haar huis opgedaag het. Sy het hom ingenooi. Oor ‘n glas wyn gebieg oor haar eensaamheid, haar aanlyngesprekke met Nantes. Hy het tevrede terug geleun teen die kussing op die rusbank.

“Kom nou, Lucinda. Moenie chicken wees nie. Jy sê self die man lyk skadeloos. Wanneer hy jou weer uitvra, moet jy aan die diep kant induik.” En soos wat hy gehoop het, het sy die aas gevat.

Hier waar hy agter die struike skuil, bereik sy opwinding ‘n hoogtepunt. Hy sluk die speeksel af wat souterig in sy mond vorm. Trek die kappie van sy swart sweetpak oor sy blonde hare wanneer dit liggies begin drup. Hy wil haar hoor smeek, ten volle afhanklik van sy genade. Hy raak met sy vingers aan die koue hef van die mes in sy sak. Hy het nooit die mes gewas nadat hy die kat se keel afgesny het nie, onthou hy. Die kopligte van ‘n aankomende voertuig laat hom verder agter die struike inbeweeg. Sy prooi is oppad. Eindelik. Die stortreën vang hom onverhoeds, belemmer sy sig. Saggies swets hy.

*

Die skrik sit nog in Lucinda wanneer sy haar motorhuisdeur se afstandbeheerknoppie druk. Verlig dat sy die huis bereik net voordat sy haar ruitveërs benodig. Sy ry na binne voordat die deur heeltemaal oopskuif en druk weer die knoppie sodat die deur agter haar toegaan. Bewend klim sy uit die motor, sluit die binnedeur oop.

“Nee! Nee! Nie Mango nie!” Die skoktoneel wat haar begroet dryf haar na die opwasbak waar sy rukkerig opgooi. Haar gesig met die kombuisvadoek afvee en bewend op haar knieë afsak waar sy die bebloede katlyfie in dieselfde vadoek toevou. Eers daarna dring die aaklige wete tot haar deur: “Hy was hier!”

“Wat het my besiel om op die internet te date? Ek kon geweet het dit sal tot niks goeds uitloop nie. Die man is mal!”

Die gloeilamp flikker-flikker bokant haar kop. Die volgende oomblik is alles donker. Lucinda onderdruk ‘n gil en sit die katliggaam in die opwasbak. Weerlig flits deur die kombuisvenster, verlig die vertrek sodat sy vir paar sekondes kan fokus.

Oomblike later hoor sy ‘n geroep by haar voordeur. ‘n Dringende klop. “Lucinda, maak oop! Ek reën sopnat!” hoor sy.

                “Petri!” Snak sy verlig.

Sy skuifel na die voordeur, pluk dit oop en trek haar vriendin na binne. Omhels die stram figuur. “Hel, jy sal nie weet hoe bly ek is om jou te sien nie.” Sy draai om en beweeg terug na die kombuis. Hoor haar vriendin stilswyend, gejaagd asemhaal.

“Daai fokken Nantes is mal! My kat!  Kom deur kombuis toe. Ek kry ‘n kers dan gaan haal ek vir jou ‘n handoek. Ek dink ons kort nou elkeen ‘n groot glas rooiwyn.”  Sy voel na haar noodkers en vuurhoudjies bo-op die yskas en steek dit aan. Verlig die kombuis met ‘n  oranje flikkering.  

 Petri staan roerloos in die kombuisdeur. Haar blonde hare hang in los toutjies oor haar skouers. Haar oë twee donker poele in die flou lig van die kers.

“Ons moet jou droog kry.” Die weerlig verlig Lucinda se pad wanneer sy haar na die badkamer haas. Sy gryp ‘n handoek van die reling, beweeg vinnig terug in die rigting van die kombuis. Halfpad deur die sitkamer flikker die ligte aan. Sy sien vir Petri waar sy soos ‘n sfinks in die sitkamer staan en met ‘n doodse uitdrukkig op haar bleek gesig na Lucinda staar. Haar asemhaling nou dieper.  Stadig beweeg haar hand na haar broeksak.

Lucinda versteen wanneer sy die mes in Petri se hand sien. Die lem klik oop. Sy sien meteens die bloedspatsels teen Petri se denim. Haar oë flits vanaf die denim na die mes in Petri se hand. Yskoud kom lê die sekerheid in haar, terwyl ‘n lam gevoel teen haar bene af kruip. Die handoek val uit haar hande.

Soekend na iets om haar mee te verdedig,  beweeg sy agteruit, stamp ‘n glaspot van die rakkie langs haar. Die knal van glas wat breek dring van vêr tot haar deur.

“Petri?” vra sy angstig. Sy staan met haar rug teen die muur. Tastend na ‘n wapen.

Petri tree stadig nader terwyl sy die bloedbevlekte mes in haar hand lig. Haar woorde onheilspellend emosieloos tussen die slae van donderweer: “Noem my Nantes.”

Intervensie.

Vinniger as die spoed van lig, verlaat ’n begeesterde Hemeling vir die eerste keer sy matriks. Hy ken geen vrees nie. In sy alwete omgewing ervaar hy slegs die hoogste vorm van geborgenheid. In die raadsaal, saam met die Ghoeroes, het hulle hom toegelaat om keuses te maak wat sy lewensreis sou bepaal…

Futloos volg Gedrogma vir Hemeling tot by sy bestemming. Die tussentydse ruimtelike geveg met Liefsteling was uiters uitputtend. Hy kon Hemeling nie stop nie en nou moet hy teësinnig toekyk hoe ‘n vrou se begeerte na ‘n kind, orgasmies vervul word. Hy ril ter aanskoue van soveel liefde. Kyk selfs vir ‘n oomblik weg. As hy toestemming gehad het, sou hy inderdaad sy moordaanslag oombliklik uitvoer. Hy het egter slegs jurisduksie oor die vrou. Hy weet Gemorse het die man ingepalm.

 Dalk kan hy met Gemorse ooreenkom dat hulle saam ‘n offensief teen die twee kan uitwerk. Dié kon egter nie die liefdevolle atmosfeer hanteer nie en het vroegaand al die hasepad gekies. ‘n Besluit wat Gedrogma, in sy eie ongemak, navolg. Soekend na ‘n tydelike verposing, vind hy die liggaam van ‘n dwelmslaaf. Gly geluidloos saam met chemiese walms by die arme drommel se neusgate in en deel die ruimte met ‘n dwaalgees.

In sy kokon, hoor Hemeling gerustellende klanke. ‘n Hartklop wat hom ritmies troos, wanneer geluide van buite hom wakker maak. ‘n Strelende stem, reeds bekend, wanneer sy vir hom wiegeliedjies sing: “Rieketie Tieketie. Wie se baba is dit die? Liefieling, jou oulike ding. Gaan jy vir my vreugde bring?”

Sommige kere drink hy van die water waarin hy dryf. Dit gee hom genot. Hy het onlangs begin om smaak te onderskei. Sekere smake maak hom uiters gelukkig. ‘n Soetigheid wat die endorfiene in sy brein so verhoog dat dit voel asof hy wil giggel. Soms hoor hy verdrietige klanke en dit vul hom met weemoed. Sulke tye verhoog Liefsteling haar energie. Verklaar troostend aan die vrou dat haar groeiende buik en die rekmerke oor haar vel ‘n teken is van haar onselfsugtige roeping. Probeer haar gemoed lig. Dit lyk egter futiel, want Gedrogma fluister gedurig afbrekende woorde in die vrou se ore.

“Jy is vet,” sê hy en giggel vir die bekommerde uitdrukking op haar gesig wanneer die spieël sy fluisteringe bevestig.

“Jy weet waarom hy elke aand later van die werk af kom, nê. Geen man sal geduldig na so ‘n gesanik kan luister nie. Liefie, my bene pyn. Die krampe is ondraaglik. Ek kon nie jou hemp stryk nie, ek het ‘n geweldige hoofpyn,” koggel Gedrogma. Sit sy arms om haar buik en gee ‘n kragtige druk sodat sy krampend vooroor buig. Haar hande grypend na vastigheid. Liefsteling stamp hom met geweld van die vrou af weg, sodat hy vloekend in die hoek gaan sit. Hoopvol dat hy daarin kon slaag om ‘n oormaat twyfel in die swanger vrou se gemoed te saai.

Liefsteling gaan sit langs die huilende vrou op die bed en streel sagkens haar hare. Paaiend fluister sy trooswoorde wat stadig tot die vrou deurdring en haar rustiger laat voel. Selfs Hemeling voel die genot van haar fluisteringe en onstpan na die versmorende gevoel wat hy minute gelede ervaar het.

Gedrogma spring op en gaan wag Gemorse en die man buite in. Die twee het skaars voet en kloutjie uit die motor gesit wanneer Gedrogma op hulle afstorm en Gemorse aan sy seningrige voorpoot beet kry. Hom histeries heen en weer ruk en angstig pleit: “Jy moet hand bysit. Het jy al ‘n verleidster georganiseer? Wat van die sekretaresse? Sy is ideaal! Die vrou se selfbeeld is nou so erg aangetas, dat sy enige storie wat ek aan haar opdis soos poeding sal opslurp.”

Gemorse vererg hom vir Gedrogma se indringerige monoloog. Hy ruk los en klap Gedrogma dat hy agteroor in die tuinpaadjie beland.

“Fokkof! Jy maak my deurmekaar. Ek het my bes gedoen om die idioot te kry om meer as een drankie te drink voor hy agter die stuur klim. Daarna het ek die stuurwiel rondgepluk en hom deur ‘n diep slaggat laat ry, maar verniet. Niks wat ek doen kry hom vrek nie. Dit sal die ideale straf wees, dink jy nie ook so nie? Ou Hemelingetjie sonder ‘n pappa!” Hy raak so meegevoer dat hy amper oor Gedrogma struikel.

“Staan op, Poephol! Maak dat jy in die huis kom. Die vrou gaan nou weer in sy ore kerm en ek wil daar wees om die pot te laat aanbrand.” Dit is inderdaad nie lank daarna nie dat albei genotvol toekyk hoe die man en vrou op mekaar begin skreeu.

“En nou, Lea, as jy my so besluldigend aankyk?”

“Het jy gesien hoe laat dit is? Gee jy nie om nie? Dit is jou baba ook. Ek is so eensaam, Derick. Voel nie lekker nie en dan los jy my alleen. Die geselskap by jou werk, seker meer interessant as myne!”

Ongegronde beskuldigings vlieg soos blitsige brandende pyle tussen die twee en laai die atmosfeer so, dat selfs Liefsteling bang voel. Sy probeer tussenbeide tree terwyl Gedrogma en Gemorse koggelend rondhop. Probeer die man kalmeer, maar hy hoor haar nie. Die bewing in die vrou se stem en hande vertel haar dat sy ook nie onmiddelike sukses uit daardie oord kan verwag nie.

“Aha!” juig Gedrogma toe ‘n klap die vrou hard teen haar wang tref en sy tollend teen die deurkosyn val. Die man slaan met sy vuis teen die muur en storm uit die vertrek. ‘n Gelukkige Gemorse agterna. Buite klap ‘n deur en ‘n tevrede Gedrogma hoor die motor weg spoed.

Die vrou soek met bewende hande in haar bedlaai en bring ‘n pakkie sigarette te voorskyn. Sy steek een aan en trek die rook diep in haar longe terwyl trane teen haar wange afdrup. Liefsteling raak aan die hoes maar probeer tog troos. Gedrogma sluip tevrede weg. Sy dagtaak volbring.

Hemeling voel vreemd toe koolstofmonoksied en nikotien sy sisteem skok. Hy probeer herstel van die stamp wat hy gekry het toe die vrou so onverwags in die rondte gedraai en met iets hard gebots het. Hy sit sy duim in sy mond en suig daaraan. Dit bring troos. Die spasie in sy kokon voel knellend. Hy kan skaars draai.

 Later, tewyl die vrou se hartlop rustiger raak en haar beweging verstil, wend Hemeling ‘n manjifieke poging aan en draai sy hele liggaam stelselmatig totdat sy kop na onder lê. Dit voel oombliklik meer gemaklik.

Die gevoel is egter kortstondig want ‘n paar ure later voel hy hoedat sy kokon met reëlmaat styf span en hom in ‘n noute in forseer. Gee ‘n geluidlose skreeu wanneer die lou water om hom opeens begin verdwyn. Die spiraalvormige verbintenis tussen hom en die vrou al draaiend om sy nek, terwyl hy veraf loeiende geluide hoor. Luide stemme en die gille van die vrou wat hom dra, nou van minder belang. Stelselmatig beur hy vorentoe. Die drang om uit sy ineengetrekte, waterlose kokon te ontsnap, al groter.

Met skreeuende remme kom die man se motor agter die ambulans tot stilstand. Sy vrou se angstige oproep het onmiddelik sy bui verander en met lang tree die hospitaalgang laat afstorm. Vinnig word groen teaterklere oor sy arms getrek en deur personeel vasgeknoop.

                “Lea!” pleit hy wanneer hy langs haar plaasneem waar sy op die teaterbed lê. “Vergewe my, asseblief. Ek weet nie wat in my gevaar het nie.”

                “Ék weet!” giggel Gemorse tevrede en gee Gedrogma se stert ‘n draai van pure opgewondenheid.

Liefdeling loer oor die dokter se skouer. Sien hoe die skalpel in die teaterlig blink, wanneer hy die vrou se buik oopsny. Terwyl die dokter vir Hemeling uit sy kokon lig, sien sy hoedat die kind se gesiggie blou raak van asemnood. Die naelstring styf om sy keel gedraai. Blitsig beweeg sy voor die dokter in, neem sy hande in hare en help hom sagkens om die naelstring los te maak. Die kleintjie hang slap in hulle hande.

Gedrogma hardloop om die bed. “Hy’s dood!” gil hy in Lea se oor.

                “Alles joú skuld!” skreeu Gemorse en wys na Derick.

Lea snik wanhopig, terwyl Derick sy kop in sy hande laat sak en oor en oor fluister. “Vergewe my. O, God wat het ek gedoen!”

Liefsteling ritsel haar vlerke. Sy straal ‘n hemelse energie uit. ‘n Goue glans verlig die vertrek eteries. Dring deur die wese van elke persoon. Slegs Gedrogma en Gemorse krimp kermend ineen. Laat los ‘n geskreeu soos die van baba varkies wat gejaag word en verdwyn plotseling.

Die dokter draai die slap figuurtjie in ‘n teaterdoek toe en lê hom op sy ma se bors neer. Saggies sing sy deur haar vrees; “Rieketie, Tieketie, wie se baba is dit die? Liefieling, jou oulike ding. Gaan jy vir my vreugde bring?”

“Welkom, Hemeling,” sê Liefdeling sag en blaas lewensasem oor sy mondjie. Sy ma se trane drup soos balsem op sy wang. Hemeling hoor die stem wat hy lief gekry het en kondig swakkies, huilend sy koms op aarde aan.

© Karen Loubser 27.07.2022

Sewe Oseane

                                                                                               

                                                                                                            

“Come on Maties, get that ship ready. Go, you scallywag, you! Off we go to the seven seas!” Die woorde wat die donkerkop kind in sy spel uiter, uitbundig. Ek luister na die skerp knars van seemeeue en duikers. Die water wat teen die klippe aan spoel. Hy kyk vlugtig in my rigting en wys na die groot mosselskulp wat soos ‘n karveel in die nou laagwater geul afspoed tot waar dit mond na die see.

 “Catch my ship, Ouma! Be quick! My pirates will drown!”

“Hardloop, Andriette,” roep ek na my ander kleinkind. “ Ouma kom. Vang Edward se boot voordat hy in die see verdwyn” 

“Oukei, Ouma.” Sy gooi die emmer en grafie waarmee sy besig was, eenkant. Spring vinnig oor die klippe. Soos ‘n bokkie. Die grasie waarmee sy ballet, vir my altyd opvallend in al haar bewegings.

 Die see het weer sy maag uitgespoel gisternag. Ek verkyk my aan die klein eilandjies van mosselskulpe, seesponse en helderkleurige seegrasse wat soos stillewes vir ‘n kunstenaar, in die wortels van die bamboes ineengevleg is. Ek sit die piekniekmandjie op die droë sand neer.

“Ek wil ook ‘n boot hê, Ouma. Sal Ouma my help soek?” vra Andriette wanneer ek hulle bereik. Saam tel ons skulpe op totdat sy tevrede is met haar vonds. Edward hardloop steeds op en af langs sy stroompie. Pak tussendeur spoelklippies om damme te vorm.  Die groot seekaptein in ernstige gesprek met sy bemanning.

 Vanoggend met die mooiweer was hý die een wat kom smeek het. “Can we go to the water, Ouma? The president said last night it is allowed to go to the beaches again. I’ll put my mask on, and I will not get my clothes wet.” Ek lag, asof hy sy masker sou aanhou, of sy klere  droog.

“It’s fine, my love. We’ll go. Oupa and Andriette’s dad will go fishing today. I’ll ask Aunty Rina and Joshua’s caretaker to join us after Joshua’s nap.”

 Dit is lekker om die vrolike seuntjie in die huis te hê.  Sy engelse ouma, gewoonlik die een wie vakansies na hom omsien. Ons klouter oor die taalkwessie, probeer die reël wat sy ouers gemaak het, eerbiedig en laat die kinders toe om spontaan te kommunikeer. 

My oumagrootjie, sou veel te sê gehad het oor my dogter se ‘verraad’.  Sy wat vir jare alle engelsprekende mans Tommies en Rooinekke genoem het.

“Kan ons op die strand piekniek hou, Ouma?” vra Andriette, wat om die deurkosyn loer en duidelik vir Edward opgesteek het om die vrawerk te kom doen. Ek dink aan die moeite wat ‘n piekniek behels, maar die kinders se kuier is die eerste in maande, na die Covid ons almal gevange gehou het. Ek voel goed. Dis ‘n pragtige dag en ons is vry om uit te gaan.

“Wat kan ek my boot noem, Ouma?” Andriette trek aan my hemp om my aandag te kry.

“Aag, sommer die Reijger of die Dromedaris,” spot ek. “ Jan van Riebeeck het mos met een van hulle geland. Of wag, Oupa het visgevang op die Dolorese. Wat daarvan? Of Duinekus?”

“Aag nee, Ouma. Dit is nie mooi name nie. Ek dink ek moet my boot, Neverlandnoem.” Ek lag. “Dit pas by jou, Andriette, dansprinses.” Ek buk af om haar ‘n drukkie te gee. Wat het ek verwag? Dat die kind enigsens ‘n sentiment sou troetel met haar europese afkoms? Haar wêreld in die Sederberge, met haar ander oupa se lemoenboorde, en die groot tuin voor haar ouma se plaaswoning, is haar speelplek en die grootste verwysing na haar herkoms.

Ons albei kyk op toe ons stemme hoor. Rina stap nader met die sambreel en kampstoeltjie in elke hand, terwyl Joshua se versorger met moeite die stootkar se dik wiele deur die los droë sand tot by die waterkant probeer kry.

“Kyk, Mamma, ek het ‘n boot, soos Edward.” roep Andriette opgewonde terwyl haar ma nader kom. Sy lig die skulp uit die water en hou dit op vir haar ma om te sien.

“Mine is bigger!” Edward hou sy ‘boot’ ook op.

“Julle bote is albei baie oulik,” paai ek.  “Speel mooi, ek gaan vir Mamma help met Boeta.”

“Haai, Mevrou, maar dis mooi hier by julle.” Die mollige meisie is uitasem toe sy die stootkar langs my tot stilstand bring. “ Ek is so bly Rina het my vir die naweek saamgebring. Al moet ek  met Joshua help. Nou kan ek mooi fotos neem en vir my ma WhatsApp.”

“Dis reg, maar help my eers om vir Joshua uit die stootkar te kry. Die ou kan nie meer wag om in die water te kom nie.” Rina hou die stoeltjie na my uit.

 “Sal ma die stoeltjie net so kniediep in die vlakwater vashou dat ek met hom daar kan gaan sit?”

Ek vat die klapstoel by haar aan, verlustig my vir ‘n oomblik in Joshua se opgewondenheid. Hy trek behoorlik agteroor en kyk met sy hemelsblou oë oor sy skouer na sy ma. Dieselfde oë waarin ons kyk om sy buie te bepaal. Te probeer uitmaak wat hy wil hê. Die oë wat soms so vol trane of lag kan wees. Dit waarvoor ons gepleit het toe hy as agt maande oue baba uit die koma moes wakker word.

“Laat ons tog weer in daardie mooi oë kyk, Here!” my pleitrede was desperaat. Ek wou ‘n koord van versekering om my familie bind en hulle by ‘n veilige hawe inlei. Vasbind aan die kaai, voordat die verlies van Joshua se volkome breinfunksies, ons elkeen oor sewe oseane na sy eie eiland van pyn meegesleur het.

Ek bewonder die manier waarop die jong meisie die kind hanteer. Vashou, sodat Rina sy sweetpakbroek kan aftrek en hy dus met die weggooidoek en T-hemp aan in die water kan sit.  

Ek hou die stoel in plek sodat Rina kan gaan sit. Sy hou haar hande uit om die seuntjie aan te vat. Hoe lank het hy nie geraak nie. Die arms skraal, sy bene onontwikkel en bleek van die tye binnenshuis.

Joshua uiter gilletjies van genot, die yskoue weskuswater, ten spyt.

 “Wag, Sus laat ek net gou ‘n bietjie sonbrandroom aansmeer. Dit kind is wit soos brooddeeg.”  Ek gaan haal die room uit my strandsak. Hoor hoe sy lag meng met die klank van die ander kinders se kammaspel.

Joshua se skouers voel klein onder my hande. Ek verlusting my aan die aanraking, tevrede om te sien hoe Rina oënskynlik sorgvry met hom geselsies maak. Vrygelaat uit die psigiese konstrasiekamp waarin Joshua se siekte haar gedompel het. Alleen soms, sonder die ondersteuning wat sy eerder sou wou hê. Haar naby vriende al hoe minder.

            “Look, Ouma, Oupa is coming back.” Edward wys na die klein roeibakkie wat agter die kaai verskyn. Ek sien hoe my man die spane met kort kappies in die water laat sak en ervare die boot vinnig aan wal bring. My seun hou ‘n groot blinklyf aan die stert in die lug.

Andriette gee ‘n gilletjie van opgewondenheid. “Kyk, Joshua, Pappa het ‘n helse groot vis gevang!” Ek wil haar nog aanpraat oor haar taalgebruik, maar moet saamstem. Dit ís ‘n bielie.

Ek kyk om toe ek vreemde stemme agter my hoor. ‘n Seuntjie breek weg van die groepie en gaan staan naby die boot.

“Middag, Oom. Kan ek op die boot ry asseblief?” Die kind is Edward se ouderdom, sy netjiese klere nie geskik vir die strand nie.  Dagbesoekers dalk?

Met die naderkom, van wie ek aanneem die kind se ouers moet wees, trek ek my masker oor my neus. Al het die president gese ons mag nou maar strand toe gaan, is ek steeds versigtig vir die onsigbare vyand. Die kammaland-spel van die kinders het my amper laat vergeet van die tye waarin ons, onself bevind.

Ek sien hulle huiwer wanneer hulle stadig by Rina verbystap.  Die blonde sesjarige seuntjie wat ongewoon, met ‘n babadoek aan, op sy ma se skoot sit, trek aandag. Haar een arm is styf om sy lyf ten einde hom regop te hou, terwyl sy, sy stywe regterhand deur die sand trek.

“Voel jy die sand? Lekker nê.” Sy geen aanduiding dat sy bewus is van die mense wat haar aanstaar nie.

            “Kom, klim julle kinders almal hier op Badprop,” roep Oupa. Ek glimlag. My man hou daarvan om die kinders tussen die klippe rond te roei. Hy haal die aasemmertjie en vissak uit die boot en stap na sy voertuig om sy vangs weg te sit.  Die oppasser tel vir Joshua op en gee vir Rina kans om uit die water op te staan. Saam stap hulle nader.

 Gou is die drie kinders  en Oupa op die roeibakkie. Twee voor in die kop met Oupa agter die rieme.

            “Wat is jou naam?” Vra Andriette die nuweling.

            Hy antwoord skamerig; “Devon, en joune?” Die kinders begin gesels, terwyl my seun vir Joshua gemaklik tussen sy bene laat sit, met Edward langs hom. Ek en Rina help die bootjie instoot en gou beweeg oupa met sy kenmerkende kap-kap van die spane rustig met die kinders tussen die rotse deur.

            “Gaan die seuntjie gewoonlik saam op die boot?” vra Devon se ma. Sy knoop haar kopdoek ‘n bietjie stywer. Haar lang swart rok wapper liggies in die wind wat nou sterker met die groei van die hoogwater waai. Met haar masker nou ook in sy plek, staan sy nader aan my.

            Ek glimlag. “Ja, Joshua is gek na die see. Wanneer sy ouers kans sien om met al sy toerusting te reis, kom kuier hulle. Die weer speel ook ‘n rol, maar daardie kind moes ‘n bietjie van sy oupa se seewaterbloed geerf het. Dit maak nie saak hoe koud dit is nie, hy wil altyd in die water wees.  Maar sy ma moet mooi kyk want sy liggaam kan nie meer temperatuurbeheer toepas nie.

“So terloops, my naam is Aletta.”

            “Rashieda.” Ons skud nie hand soos ons gewoonlik sou nie. Sy kyk na waar haar man gebukkend besig is om Joshua se spesiaal aangepaste stootkarretjie te ondersoek.

“ Versorg sy ma hom tuis?” vra sy huiwerig.

“Ja, die kinders glo dit is die beste vir hom. Hy kry meer liefde en aandag as baie normale kinders. Maar dit is veeleisend. Werk in op almal in die huishouding. En die kostes om so ‘n kind te versorg is besonders hoog.”

Ek sien hoe ‘n traan teen haar wang afloop, onder die masker in verdwyn. Dit is nie ongewoon dat vreemdelinge met Joshua se omstandighede simpatiseer nie.

“Ek verstaan so goed.” Haar stem onvas. “Ons dogter is in ‘n tehuis vir gestemdes. Ons kon haar versorging nie meer hanteer nie. Ek mis haar elke dag. Sy is nou sewentien. Devon is ons laatlam. Ons het ‘n bietjie uitgery hiernatoe om uit die stad te kom. Toe ons hier stop sien ek hoe die vrou met die stootkar deur die sand sukkel. Hoe sy ma hom aanvat. Ek het dadelik geweet waardeur sy gaan. Voordat ek kon keer was ek uit die motor. Ek wou daar wees vir haar.”

“Dankie daarvoor,” hoor ek Rina se stem. Sy het nader gekom sonder dat een van ons besef het. Rashieda draai na haar. Die twee vroue uit verskillende kulture omhels vlugtig. Ten spyte van die Covid.

Devon se pa stap vinnig nader toe die roeiboot se pens weer grond raak.  Hy tel sy seuntjie uit en vryf die kind se rug terwyl hy dankie sê. Rina dadelik by om te help met Joshua.

Rashieda groet. “Ek wil gaan kuier by my kind.” Sy klink opgewonde. Ek kyk hulle agterna toe hulle wegstap.

“Ek is honger.” Sê my man en gaan sit langs die piekniekmantjie.

“Jy is altyd honger,” sê ek laggend.

“I’m also hungry,” vertel Edward en gryp ‘n broodjie uit die eerste oop houer.

Ek wens jy was hier vandag, Ouma groot. Om te deel in hierdie mooi dag. My sonskyndag van dankbaarheid en eenwording, toe ons almal uit ons huise kon kom.

11.08.2021

©

Liefste Herman, op jou sesde verjaardag.

Baie geluk, Boeta. Jy is vandag op 8 Junie 2021, ses jaar oud. Jy het so ‘n mooi groot seun geword.  Ouma is baie trots op jou, want jy het nog  nooit opgehou veg teen die bande wat jou siekte om jou kom bind het nie. My eie superster, dit is wie jy is.

Ouma was vir ‘n baie lang tyd stil met die briewe, maar vandag is ‘n baie spesiale dag en daarom wil ek baie graag my hart vir jou wys.

                Liefste Herman, Ouma was so stil omdat Ouma in die vrede van die Here inbeweeg het, oor jou seerkry. Ouma het berusting gevind. Dit het my lank gevat. Ek weet nou dat jou situasie nie sommer net ‘n totale ommekeer sal behels nie, maar wel kan verbeter. Nuwe mylpale, groot wonderwerke wat nog kan voorlê, maar nie soos in die oë van die wêreld, sal jy normaal wees nie. Die skade was te groot. Tog wil ek nog myself oor die vingers tik en sê ek is ‘n ongelowige Thomas om so te praat maar dan besef ek weer dat jou wonderwerke nie is soos baie mense dalk verwag nie. Jou wonderwerke lê in die klein dingetjies. Ons moet wakker wees en op die uitkyk, anders mis ons dalk een.

 Ek baklei nie meer met die Here omdat jy siek geword het nie. Jy moet verstaan dat my briefskrywery aan jou vir my ‘n soort medisyne was. Die enigste manier waarop ek die seer van jou breinskade, die verpletterde drome van ‘n ma en pa vir hulle seun, of ‘n ouma en oupa vir hulle kleinseun, die aanpassing en frustrasies rondom jou hele situasie, kon verwerk. Die briewe was ‘n manier om gesond te raak.  En toe die vrede eindelik kom, toe was dit amper asof ek nie meer daardie medisyne nodig gekry het nie. Al wat ek nou nodig het om oukei te wees oor jou, is om jou gereeld te sien. Ouma sien nog steeds hoe God jou sterker en sterker maak. Jy wys al hoe meer warvan jy hou of nie hou nie. Jy wys jou eie wil. Jou vreugde wanneer jy iets regkry is so aansteeklik. Dit maak jou hele familie gelukkig. Jy maak ons gelukkig.

                Soms, net soms, soos gisteraand, huil ek nog in die stort oor jou. Daar waar ek nie hoef te verduidelik hoekom die emosie my so skielik oorval en ek weer vir die Here vra: “Hoekom?” nie.  Gisteraand het ek besluit dat die brief vandag op jou verjaardag geskryf moes word. En voor ek my kon kry toe probeer ek visualiseer hoe jy sou speel met ander seuntjies by die skool. Dat jy die jaar jou pre-primer sou klaarmaak.  ‘n Grootman wat volgende jaar graad een toe sou gaan. Ek het my voorgestel hoe jy saam met jou pa in die bakkie sou ry.  Hoe jou ma sou sê; “ Moenie rugby speel nie, speel eerder tennis. Netnou kry jy te seer.” Jou pa sou stry en jy sou op die end self besluit het.  Ek het gewonder watse kattekwaad jy sou aanvang en waaroor jy dalk ‘n pak slae sou moes kry. En toe huil ek. Want jy speel nou sport wanneer iemand jou hand vat en ‘n bal wegstamp namens jou. Jy hardloop op die resiesbaan wanneer jy jou onbeholpe bene met groot moeite laat stap in jou walker, soos Mamma jou rolstoel noem. Want dit is nie rerig ‘n rolstoel nie, maar ‘n loop stoel met ‘n saal soos  ‘n fiets waarop jy vasgemaak word, en wat jou toelaat om te kan stap. Al gaan jou bene soms oorkruis. Jy beweeg op jou eie en daardie gevoel van vryheid is alles vir jou. Jy doen sport wanneer Elri haar netbal doele oefen en jy al om haar met jou walker beweeg. Wanneer sy dans in die sitkamer en jy uitgelate met die walker al in die rondte beweeg en kort-kort teen die bank stamp, oefen jy soos die kampioen wat jy is. En dis great, maar Ouma het nog steeds gehuil want dit was nie die droom wat ons vir jou gehad het nie. Toe draai ek die kraan toe, droog my af en gaan aan met die lewe, soos jy.

                Sondag, met jou verjaardagpartytjie was ek so bly dat jy ook ‘n stukkie van jou sjokoladekoek kon eet. Dit was ‘n stukkie normaliteit. Jy het so baie reels met jou kos. Dit was lekker om te sien dat jy net soos enige ander kind ‘n stukkie koek kon eet sonder nagevolge. Ek is baie bly dat Mamma jou so nou en dan gewone goedjies laat eet, net om te toets of jy nog steeds so baie sal reflux as jou kos nie die heeltyd keto is nie. Ek dink jy raak soms verveeld met wat jy moet eet, maar dit is baie moeilik vir mamma want jy kan nie suiker en melk inneem nie. Selfs nie sommer gluten of eiers nie. Sy doen baie moeite met jou kos. Sy sorg dat jou kos so voedsaam as moontlik is. Dit was lekker om te sien hoe jy ook van jou verjaardagkoek kon eet. Al was dit ook net ‘n klein stukkie. Jy is tog so lief vir eet. Soos Elri sê, “Herman wil altyd eet.” Dit het my laat glimlag want dit is so normaal vir ‘n seuntjie.

 Met die covid kon Mamma nie so baie maatjies nooi nie, maar jy het geweet dit gaan oor jou, want almal het kort-kort vir jou Veels geluk liewe Herman gesing, en dan het jy jou lyfie sommer so agtertoe gegooi van plesier en lekker gelag. Dit het vir my gewys dat jy presies geweet het oor wie die dag nou eintlik gaan.

                Herman ek wil dit nou sommer so in gewone taal vir jou sê:”Jy is regtig nie stupid nie.”    .

Jy is ‘n intelligente seuntjie wat dink oor wat hy wil hê. Jy verstaan waaroor mense praat. In so ‘n mate dat hulle sekere woorde vermy as hulle weet dit gaan ‘n reaksie uitlok. Soos bevoorbeeld, kos, en bad en bal of lees. Jy maak die keuses van watter programme jy op televisie wil sien. Of watter kos jy jou mond voor sal oopmaak. Jy wys wat jy wil drink en wat nie. Ek kan my net indink hoe hoog jou frustrasievlakke moet wees omdat jy nog nie die vermoë het om klinkers te vorm en sodoende te kan praat nie. Want jou aa is ja, jou ahou is hallo, Oua is ouma ens. Daar is vir die wat by jou woon en met jou werk , so baie klein tekens van jou voor en afkeure. Daarom wil ek dit herhaal. Jy is nie stupid nie, jy is ‘n slim seuntjie wat hard probeer en homself soms tot op die uiterste moet beproef om te doen wat vir ander so normaal is. Soos bv om iets te probeer vashou. Ek admireer jou.

                Wat my veral getref het, was dat jy vanjaar ses geword het, in die selfde jaar wat ek sestig geword het. Asof iets in hierdie jaar ‘n besondere betekenis moet hê. Met die covid so al om ons, en die hoop dat ons as ‘n gesin heel moet bly deur hierdie vreemde tye waarin ons leef, is dit goed om ‘n besondere gebeurtenis te verwag. So asof ‘n mens ingeskryf het vir ‘n wedstryd met ‘n baie groot prys en nou net wag om te sien of jy die wenner is. Maar eintlik is jy klaar ‘n wenner, want die dood wou jou kom haal en toe wys jy hom, jy gaan nie ingee nie.

Ek dink ook dat almal van ons nooit moet ophou werk aan jou nie. Dat ons nie net na jou moet omsien nie maar jou die hele tyd steeds moet stimuleer, en leer. Ouma besef dat daar ‘n baie dun lyn loop tussen aanvaarding en opgee. Dit mag ons nooit doen nie. Ons sal nooit opgee op jou nie, my liefste kleinkind. Ons sal altyd bly werk daaraan dat jy nog kan ontwikkel. Al is jou metoriese vlakke net ‘n klein bietjie beter elke jaar. Dis oukei, want daar binne in jou intellek lê nog ‘n onbekende toekoms. Een waarmee ons sekerlik nog baie verras gaan word.

                Jou lyf groei met rasse skrede. Soveel so dat die walker al amper te klein is. Die standing frame eintlik nie meer gebruik kan word nie. Die buggie al weer aangepas moet word. Soveel kostes, maar dit wat ons in tonne maat vir jou kan gee, en wat niks kos nie is ons tyd en liefde en aandag.

                Vandag op jou sesde verjaardag wil ek hulde bring aan almal in jou lewe wat soveel deurgaan met jou dag tot dag versorging. Van jou ouers, sussie, grootouers tot by jou tannies en jou nefie en niggie wat nie genoeg liefde kan gee wanneer hulle jou sien nie. Die versorgers wat ook soos familie raak, die fisioterapeute, die bure en vriende. Almal wat iets doen om die las vir jou ouers te verlig, al is dit net om jou te aanvaar en te verstaan as jou ouers nie die tyd aan hulle kan afstaan soos in die verlede nie, omdat dit moeilik is met jou. Aan al daardie mense sê Ouma vandag, dankie. Mag die Here julle seen. Mag Hy veral jou ouers seen. Met krag, geduld en insig.

                En jy liewe seuntjie, mag jou laggie altyd liggies in my hart aansteek. En mag ek nooit ophou om te waardeer wat ek het nie. Want jy het so baie verloor maar deur jou leer ons om te lag, te wag, te bid en te berus. Jy is ons eie klein stukkie van Jesus hier op aarde. As ons maar so afhanklik van God kan wees soos wat jy is van almal om jou, kan jy dink hoe nederig en dankbaar ons sal lewe. As ons maar so kan lag oor die klein vreugdes in ons lewe, dink net hoe vrolik ons dae sal wees. As ons bly kan wees wanneer ons die dinge om ons sien waarvan ons hou, soos jy oor ‘n bal of ‘n boek, dink net hoeveel minder onvergenoegd ons sou wees. In jou oë sien ek net liefde, aanvaarding en blydskap. Jy is alles wat onskuld moet wees. Ten spyte van siekte, epilepsie, serebrale frustrasies en al die ander dinge waarmee jy opgeskeep moet wees, bly jy ons voorbeeld.

Ek is vir jou baie lief. En van nou af sal ek nie meer skryf om gesond te word nie, maar sommer net vir die lekker, omdat ek in ‘n brief vir jou alles kan sê wat ek nie daar in jou eie teenwoordigheid vir jou kan sê nie.

Met groot deernis groet ek eers.

Van Ouma Karen.

Die-vlieënde-virusvlugtende-towerintent-hoofstuk-9

Una maak die inperking ń avontuur.

WoordNoot

wp-15934272266158790432450771997872

Hierdie is nog ‘nLê-Jou-Eierbloguitdaging wat deel vorm van die Towerinne se avonture.

Skakel:https://fresh.inlinkz.com/p/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

WoordNoot, neem oor asseblief, en met die woorde flip Una die muntstuk in my rigting. So asof sy jammer is dat sy dit weg moet gee. Ek is doodseker dat as ons eendag klaar getoer het, sy daai Kwien se silwerstuk weg gaan laat raak, soos daai keer in die Sammy Marks huis. Maar ek neem haar nie kwalik nie want dis ons behoud….hierdie toer wat ‘n cocktail is van bemoediging, drome, fantasie en pret.

Nietemin, dis my beurt om oor die Kwien se plat neus te vryf. Ja, dis verseker nou al plat want die gevrywery word ernstig opgeneem. En dadelik weet ek dat ek binnekort die mees ongewildste Towerin gaan wees. Ek probeer anti kloksgewys vryf in die hoop dat daar iets anders sal uitpop, maar nee, die flippin Kwien drop my…

View original post 1,541 more words

Om die tyd uit te wag.

Die boodskap kom vroegoggend. “Sal Tannie my assseblief vandag kan uithelp om Ouma by die dokter te kry?

“Ouma” is my man se tante aan moederskant. Iemand met wie ek al 39 jaar ‘n familie verhouding het. Haar man was een van my man se gunsteling ooms. Hulle het baie saam visgevang, gekamp, gekuier, gelag en soms ook gehuil. Op begrafnisse gepraat oor die snaaksighede van die afgestorwene. Op troues gelag oor mekaar se mannewales.

Soms het die oom met al sy kleinkinders onwerwags by ons huis in St Helenabaai aangekom en sonder verwyl aangekondig dat my man hulle nou dadelik see toe moet neem met die boot. Hulle wil visvang. En hulle is honger. Dit wat gevang word sal hy natuurlik ook vir hulle moes voorsit. Hoe onverwags ookal, ek het die kuiers gewoonlik baie geniet, want dan was my anderhelfde in sy element. Ek skarrel in die kombuis vir koeldrank of koffie, broodjies en slaai saam met die vangs van die dag en wanneer die hele vrolike span laatmiddag huiswaarts keer is jy vol van die genot van julle saamwees.

Die tannie het maar min saamgekom na die kampeerkuiers, die nuwejaarsbraaie of die vinnige inval visvange. Sy het die fort gehou op die plaas waar hulle met groente en diere geboer het. Altyd in die agtergrond, maar so gasvry wanneer ons daar by hulle ‘n draai gemaak het. Vol stoute humor. Fluks en bekend vir haar bystand aan haar man en kinders.

In hulle oudword jare het hulle, noodgedwonge nadat sy eendag in sy afwesigheid, in hulle huis wreed deur rowers geslaan was.  hulle kom vestig in Saldanhabaai waar ons ook tans woon.  Hier het ons onverwagte besoeke weer omgedraai vanaf ons na hulle toe. Die keer was dit ons wat vinnig inval vir ‘n koppie tee en gesels. My man wat die oom hospitaal toe neem, gaan besoek met sy vele opnames aan die beterword plek met die baie wit beddens waar hulle in sy laaste jare kort-kort moes bloed gee. As hy dan swakkies by die huis aankom, te bewerig om alleen regop te bly in die stort het my man niks daarvan gedink om self sy klere uit te trek en saam met die oom in die stort te klim en hom te was en daarna aan te trek nie. Die tannie altyd so dankbaar bly.

Nou kry ek oproepe en besoek ek net die een persoon wat agter gebly het. Dierbare Tannie. Maar sy ken my nie meer nie. Sy ken ook nie meer haar eie kinders nie. Net soms, so vir drie sekondes verhelder die oë. Ken sy die mens wat voor haar staan. Glimlag sy met genot.

“Lyk ek darem mooi vandag?” vra sy, toe sy een helder oomblik beleef op ‘n laat Saterdagmiddag wanneer haar dogter voor haar staan en glimlaggend na haar uitreik.  Ouma se  hande met sokkies toegemaak, want die onwillekeurige gekrap aan haar arms en bene, sommer so oral oor haar verrimpelde droë vel, laat haar vol merke en rowe. Die bene toegegooi met ‘n kniekombers, word sy haar lepeltjies kos gevoer want sy kan nie meer self eet nie. Haar enigste ligpunte deur die dag, nou die kos wat sy nog kan geniet.

Hulle kyk mooi na haar. Die vroue met die blou uniforms. Die vroue met die sagte oë en die geduldige hande, wat haar snags moet omdraai sodat sy nie bedsere kry nie. Wat haar doeke ruil, en met seepgesmeerde lappies  haar lyf skoonmaak.

Die kinders sorg vir sagte nagklere. ‘n Snoesige japon. Kniekomberse. ‘n Spesiale eetdingetjie so nou en dan. Sy sit nou by ‘n tafel bedags, so op die rolstoel. Sodat sy nie per ongeluk vooroor tiep nie. Die tafel ‘n stut. So nou en dan kyk sy op  na die televisie bo in die hoek teen die muur. Praat net met die wie haar elke dag versorg ‘n woord of twee. Die grappies waaraan sy gekenmerk was al hoe minder. Die groot stilte besig om al hoe meer in haar nes te skop. Want sy onhou nie meer nie. Nie wie sy was, hoe sy was en waar sy vandaan kom nie. Sy ken nie meer haar kinders nie, ook nie ander familie nie. Die kleindogter wat haar elke dag besoek, die enigste wat nog die liggie agter die vaal gordyn kan aansteek. My hart huil vir daardie kleindogter. Soveel toegewydheid en liefdevolle teerheid het ek lanklaas in my lewe beleef.

En gister, die oproep. Neem asseblief vir Ouma dokter toe. Sy het baie pyn in die been. Ons kan haar nie los vir later nie. Kleindogter tel haar op. Die arms van voor onder deur haar oksels, die hande styf vas agter haar ouma se rug, lig sy haar van die rolstoel terwyl die verpleegster wat saam met my ry, haar aan die broekrek beetkry van agter om die boude gelig te kry. So hys hulle haar saam-saam tot in die motor. Ek trek net die rolstoel onder haar uit en sê dankie vir die Vader dat ek nie alleen met haar is nie. Oppad roep ons ‘n paar maal benoud om te hoor of Ouma nie dalk wegraak nie, want sy is geelbleek. Die oë toe. Kop eenkant toe gesak.

Dokter sê genadiglik ons moet haar laat opneem in die hospitaal. Ouma se bloeddruk is laag en sy kort vog. Haar bloede moet getoets word, en die beste wat ons kan doen met die seer been is anti-biotika. Moet nie te veel verwag nie, sê Dokter. Ons kan nie meer veel doen vir iemand van haar ouderdom en kondisie nie. Kom ons ondersteun haar net sover mootlik. Ek is dankbaar vir die suster wat saamgery het, want sy verskaf al die inligting rondom haar kroniese medikasie.

Ons wag met haar in die ontvangs by die hospitaal. Sy slaap met die kop skuins. Ek en suster maak beurte om haar kop te stut.  Haar tande begin uit haar mond uit val en ons kry ‘n sakkie om dit in te hou. Tot later. In die saal word sy ontklee, ‘n jurkie aangetrek. Die een met die lettertjies op en twee bandjies wat veronderstel is om jou waardig toe te hou. Sy moet ‘n skoon doek kry. Die verpleer hou uit maar ek sien hy raak verleë toe hy nie die lyf skoongevee kry nie, want haar derm hou aan spoeg en spoeg. Die saamry suster gee ‘n hand tot daar weer beheer is.

Ag, Here mag ek nooit so weerloos ontbloot voor ‘n vreemdeling lê nie. My naaktheid ontbloot. My waardigheid gestroop. My hande met sokkies onmul. My bene rou van skrape teen rolstoelwiele, omdat ek geen beheer oor hulle het nie. My tande op ‘n kassie langs die bed. My gees verward omdat ek nie weet waar ek is, en wie dit mense om my is nie, terwyl die naalde wat bloede trek my prik en my lyf pyn met elke rowwe omdraai. Die been slepend agterna.

Ek huil in my hart en soen en soen die voorkop van hierdie wonderlike moeder en vrou. Wat nou net haar bang oorhet vir al die vreemdes om haar. Terwyl sy later toegevou onder laken en kombers, moeg die oê sluit. Dis beter as om te vra sonder woorde. Wie is julle, en hoekom is ek hier? En waarom maak julle my die hele tyd so seer?

Later kom die drup. Sy voel hoe die dors begin verdwyn. Kleindogter bring haar pille en haar doeke. Sit by haar tot ounag. Nadat ek lankal reeds huis toe is. Met nuwe waardering vir my eie 87jarige helder van verstand skoonmoeder wat ook onder my sorg is. En sy vra my uit na haar skoonsuster. Ek wys vir haar die foto wat ek geneem het, en ek eien ook in haar die vrees. Dat sy nie so sal raak nie. En die dankbaarheid, vir wie sy nog kan wees.

En en nou wag ons maar, vir beterskap, tot ‘n volgende keer. Of daardie oproep wat almal vrees, maar waar die ware vrede en vreugde versteek wag.

(Name weerhou, om die familie te respekteer.)

 

 

 

Naweek- ‘n Kort briefie aan Herman.

Ek het gedink ons gaan saam langs die see speel. Dat jy met jou voetjies aan die water sal raak en die lag waarna ek verlang vir my sal gee. Ek het gedroom oor hoe ek jou so bietjie gaan vashou en jou boekie vir jou lees. En dat jy die blaaiwerk gaan doen. Jou Sussie sou met Karelize en Greame speel en ek sou by jou bly terwyl jy slaap sodat jou mamma en Pappa kwaliteit tyd saam met Elri en daardie klein brakkie, Willem, op die strand sou kry. Mamma sou vir ‘n uur of so vergeet van die boekhouer en belasting en huis en werk met jou. Sy sou sommer ook met haar kaalvoete die sand kon voel en skulpe saam met Sussie optel.

Pappa sou Saterdag saam met Oupa Pieter gaan visvang en ons sou regmaak om daardie selfde vir oor die kole te braai. Ons sou melktert eet, want Ouma het verjaar. Tannie Nadia sou mooi fotos neem en Karelize en Ouma sou gesels oor haar skoolwerk en haar toekomsdrome. Elri sou by Ouma kom spog oor die tandjie wat sy gewissel het.

Ons sou lekker bordspeletjies speel of fliek kyk terewyl ons warm bly onder die kombers. En jy sou beurte kry tussen my en Oupa en Tannie Nadia sodat Mamma kon beweeg sonder stremming.

Ons sou al daardie lekker dinge die naweek gedoen het. Maar jy is ‘n brose kind by wie geen siekte mag kom nie. Jou adenoids moet eersdaags verwyder word en ons kan nie bekostig dat jy nou verkoue kry nie. Ja, jy het reg geraai. Een van ons het griep. Of verkoue. En weereens soos soveel keer tevore moes ons al ons planne begrawe. Mamma en Ouma moes maar oor die foon gesels en Tannie Nadia het alleen saam met Liesie en Greame gaan naweek hou. Ouma en Oupa hoes albei soos ou honde en smeer vicks en drink Benylin4. Ons spuit soutwater in ons neuse op en bly uit die aandlug. Die nare griepvirus het ingesluip en ons naweek kom steel.

Die melktert staan nog steeds in die yskas. Ouma en Oupa verlang na julle. Ons is baie lief vir julle en ons mis julle. Maar  ons het jou lief genoeg om te weet: Ons mag nie naby jou wees in hierdie toestand nie. So vasbyt, liewe Herman. Ons kuier een van die dae. My seer hart sal weer vrolik word. Teleurstellings is deel van die lewe. Daarom sal ons elke gesonde uur wat ons saam met jou kan wees baie diep in ons harte vaswerk en dit met geskenkpapier toedraai.

Mooi week, my skat

Liefde

Van Ouma Karen

WhatsApp Image 2018-07-09 at 12.20.15 (2)

Drome

 

Ek wil skep met naald en gare. Wol en hekelnaald of brei. Ek wil my verlustig in kleure en geure. Ek wil iets nuuts begin. Ek wil skryf sonder onderbrekings. Ek wil gaan sit op mooi stoepe onder skadubome en kos bestel wat ek nie ken nie.

Ek wil gevul word met lag en lig en lewe. Ek wil nostalgies op ‘n somsers namiddag op die stoep sit saam met geliefdes. Iemand moet klavier speel en sagte melodië moet deur die gerummel van stemme ou herinneringe uit my verlede wakker maak.

Ek wil ‘n glas gemmerbier drink en my ma daarin proe.

Ek wil Peter Skelerin luister en my pa daarin hoor.

Ek wil rondloop in antieke winkels en my vergryp aan die skoonheid van ou glasgoed en handgeverfde borde.

Erens langs die pad wil ek uitklim en ‘n roos ruik. Ek wil deur boeke blaai en stukke van gedigte en stories lees. Die woorde toelaat om gevoelens van geluk en tevredenheid in my mens wees te vorm.

Ek wil kinders hoor lag. Die wind teen my vel aanvoel. Ek wil kyk na die glimlagte van geliefdes om my. Sommer net hulle oë dophou terwyl hulle staaltjies vertel.

Ek wil ‘n kwêvoeltjie hoor skreeu hoog in die bome. N lekker stuk lemoenkoek met rooikoeldrank afsluk.

Ek wil ure lank deur lapwinkels dwaal en my hande oor sy en satyn laat gly. Ek wil my verbeel hoe die sagte chiffonlae van duisende kleure lappe oor duisende mooi liggame vloei. Hoe die son deur stukkies kant voor vensters patrone vorm.

Ek wil fonteintjies hoor kabbel. Koi visse sien swem in poele gevul met skadus terwyl jazz klanke deur die water breek tot daar onder waar hulle bekke oop en toe gaan, en geen mens kan verstaan hoe hulle sonder longe kan asem haal nie.

Ek wil my mooi aantrek en na die Arts Cape gaan waar ek my kan verlustig in toneelstukke waar vaardige kunstenaars se stemme soos stroop oor my loop.

Ek wil deur galerye stap waar die strepe van oliefverf emosies op doeke uitbeeld en jy jou eie eenvoud kan vergeet en besef die mens is skepper soos die God wat hom gemaak het.

Ek wil ook in Europa na kunsgalerye gaan kyk. Na katedrale en modes en kos eet wat vreemd is. Ek wil vreemde tale om my hoor en sneeu sien en tulpe en torings en unieke vertonings. En ek wil weet wat wonderlik is aan lewe.

Dan sal ek terug kom en skottelgoed was, en matte se kolle skoonmaak en kos maak tot vervelens toe. Vaskyk teen grys heinings en eenvoud en engheid en daagse sleur. Teen roetine en behoeftes van mense wat nie versaan van uitbreek uit grense. En dankbaar wees want ek is immer nie desperaat biddend vir my volgende bord kos nie. Ek leef nie in pyn nie en vrees nie elke beweging om my nie. Ek is warm en geseënd.

Dis net hier diep onder my vel waar die begeertes dwaal. En uitroep na iets verby die alledaagse. En ek vermoor  daagliks my begeertes. Kap ek stukkies van my drome af en bêre dit onder in ‘n kis. Dalk kan ek dit vorentoe oopmaak. So stukkie vir stukkie. Want die meeste van hierdie begeertes is gratis. Ek moet dit net skep. Gaan haal. Soos met liefde. Dis ‘n werkwoord.