Drome

 

Ek wil skep met naald en gare. Wol en hekelnaald of brei. Ek wil my verlustig in kleure en geure. Ek wil iets nuuts begin. Ek wil skryf sonder onderbrekings. Ek wil gaan sit op mooi stoepe onder skadubome en kos bestel wat ek nie ken nie.

Ek wil gevul word met lag en lig en lewe. Ek wil nostalgies op ‘n somsers namiddag op die stoep sit saam met geliefdes. Iemand moet klavier speel en sagte melodië moet deur die gerummel van stemme ou herinneringe uit my verlede wakker maak.

Ek wil ‘n glas gemmerbier drink en my ma daarin proe.

Ek wil Peter Skelerin luister en my pa daarin hoor.

Ek wil rondloop in antieke winkels en my vergryp aan die skoonheid van ou glasgoed en handgeverfde borde.

Erens langs die pad wil ek uitklim en ‘n roos ruik. Ek wil deur boeke blaai en stukke van gedigte en stories lees. Die woorde toelaat om gevoelens van geluk en tevredenheid in my mens wees te vorm.

Ek wil kinders hoor lag. Die wind teen my vel aanvoel. Ek wil kyk na die glimlagte van geliefdes om my. Sommer net hulle oë dophou terwyl hulle staaltjies vertel.

Ek wil ‘n kwêvoeltjie hoor skreeu hoog in die bome. N lekker stuk lemoenkoek met rooikoeldrank afsluk.

Ek wil ure lank deur lapwinkels dwaal en my hande oor sy en satyn laat gly. Ek wil my verbeel hoe die sagte chiffonlae van duisende kleure lappe oor duisende mooi liggame vloei. Hoe die son deur stukkies kant voor vensters patrone vorm.

Ek wil fonteintjies hoor kabbel. Koi visse sien swem in poele gevul met skadus terwyl jazz klanke deur die water breek tot daar onder waar hulle bekke oop en toe gaan, en geen mens kan verstaan hoe hulle sonder longe kan asem haal nie.

Ek wil my mooi aantrek en na die Arts Cape gaan waar ek my kan verlustig in toneelstukke waar vaardige kunstenaars se stemme soos stroop oor my loop.

Ek wil deur galerye stap waar die strepe van oliefverf emosies op doeke uitbeeld en jy jou eie eenvoud kan vergeet en besef die mens is skepper soos die God wat hom gemaak het.

Ek wil ook in Europa na kunsgalerye gaan kyk. Na katedrale en modes en kos eet wat vreemd is. Ek wil vreemde tale om my hoor en sneeu sien en tulpe en torings en unieke vertonings. En ek wil weet wat wonderlik is aan lewe.

Dan sal ek terug kom en skottelgoed was, en matte se kolle skoonmaak en kos maak tot vervelens toe. Vaskyk teen grys heinings en eenvoud en engheid en daagse sleur. Teen roetine en behoeftes van mense wat nie versaan van uitbreek uit grense. En dankbaar wees want ek is immer nie desperaat biddend vir my volgende bord kos nie. Ek leef nie in pyn nie en vrees nie elke beweging om my nie. Ek is warm en geseënd.

Dis net hier diep onder my vel waar die begeertes dwaal. En uitroep na iets verby die alledaagse. En ek vermoor  daagliks my begeertes. Kap ek stukkies van my drome af en bêre dit onder in ‘n kis. Dalk kan ek dit vorentoe oopmaak. So stukkie vir stukkie. Want die meeste van hierdie begeertes is gratis. Ek moet dit net skep. Gaan haal. Soos met liefde. Dis ‘n werkwoord.

Advertisements

4 thoughts on “Drome

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s