Skoppelmaai. Herman word 3.

Liefste Herman

Jy hou ons behoorlik op ons tone, Mannetjie! Een dag is Ouma so dankbaar en gelukkig oor jou en net die volgende dag, moet ons weer so rakelings aan die soom van Jesus se naatlose kleed vashou ter wille van oorlewing. Ons emosionele oorlewing, en jou fisiese. Maar laat ek eerder begin waar ek laas moes ophou.

Skaars is ek terug by die huis nadat ek jou help oppas het, toe Mamma en Pappa bietjie gaan suurstof kry het, en toe moes ek hoor jy is sonder oppasser en Mamma sonder hulp. O gaats, hoe nou gemaak? Vir amper twee weke gaan dit toe sommer WOES. Mamma verdwaal tussen jou versorging en die wasgoed, skottelgoed, speelgoed, boekies, huiswerk, honde, Elri se skool en ballet en Pappa se programme. Die twee oumas bid vir voorsiening van die regte persoon en Pappa vra rond en soek na iemand. Toe stuur die Here vir Mary. Sy praat net engels en is ‘n juffrou wat nie tans werk het nie. Sy is baie vriendelik en Elri hou ook sommer baie van haar.

Mary is nog nie lank by julle nie maar ek kan sien dat sy sommer klaar vir jou lief is. Sy wil ook graag werkies saam met Elri doen, want Ouma vermoed sy mis haar skoolkinders. Mary het ook kinders van haar eie en om vir hulle goeie skoolopleiding te kan bekosting moet sy help werk om aan hulle behoeftes te voldoen. So het elke huis maar sy offers om te maak. Ouma slaak ‘n sug van verligting toe sy opdaag en dinge lyk asof dit weer momentum kry.

WhatsApp Image 2018-05-23 at 17.02.27

Kyk Mary se sagte oë. Ouma hoop regtig sy kan die werk baasraak en nie sommer weer weggaan nie. Elri praat sommer alte lekker Engels met haar en miskien kan sy jou ook sommer ‘n paar woorde leer.

Twee weke gelede, die Saterdag ry jy alte lekker saam met Pappa, Mamma en Elri op die boordwaentjies. Pappa stuur ‘n foto en ek verlekker my daarin dat jy buite in die natuur kon wees. Ook dat Mamma uit die huis kom. Sy is so lief vir die plaas.

Sondag oggend terwyl Ouma en Oupa reg maak vir die kerkdiens, kry ons ‘n nare boodskap en my maag trek sommer so op ‘n vieslike knop. Ek wil nou nie sê dis ongeloof wat daar gaan bymekaar knoop het nie, maar dit was ‘n groot stuk vrees, want Mamma sê toe jy fit al vir 90 minute. Dis ons maklike vinnige woord vir epilepsie. Die groot gevaar wat jou so elke paar maande onverwags in jou slaap oorval. Eers was die aanvalle korter maar elke keer het dit langer geword en die keer was dit sommer ‘n yslike groot een. Jou arme brein het regtig kortsluitings beleef met ‘n mega elektriese storm wat jou asemloos-moeg gelaat het. So erg dat die dokters jou onmiddelik Kaap toe gestuur het. Citrusdal hospitaal het nie eers ‘n suurstofselinder of ambulans gehad om jou mee te stuur nie. Mamma moes maar so biddend met jou sit terwyl Pappa soos ‘n blitsige gevaarte deur bergpas en langpad moes jaag. Langs die pad het Mamma nie meer jou asempie gevoel nie. Dit was touch and go soos hulle sê.

Intussen het Ouma saam met ons Pastoor Errol le Roux ernstig vir jou ingetree en hy het die epileptiese gevolge bestraf en mooi saam met Ouma gebid vir jou behoud. Ek was baie emosioneel en kon amper nie myself keer om dwarsdeur die diens te tjank nie. Al Ouma se make-up heel af. Oupa kon toe nie anders nie, ons moes deur jaag na kerk om te gaan kyk hoe dit gaan, want ons was albei baie bekommerd oor die toestand van Mamma en Pappa. ‘n Mens sien nie jou kind so en stap sommer net gewoonweg aan nie. Daar êrens in jou binnekant rafel jy uit.

Tannie Nadia het hulle by die hospitaal ontmoet en so op haar manier ondersteuning gegee. Ouma is so bly sy bly nou so naby aan Cape Gate hospitaal. Dit maak dit darem makliker om ‘n gunsie aan te bied wanneer jy daar beland.

Ouma weet nie presies wat alles daar gebeur het nie, maar toe ons daar kom, toe sit-lê jou pa op die ander bed in jou kamer met sy rug teen die muur(letterlik en figuurlik.) Ek het hom laas so sleg sien lyk toe jy die eerste keer siek geword het. Sy oë was rooi en sy gesig moeg. Sy hele lyftaal het gespreek van spanning, skok en hartseer. Mamma was stil. Amper half wagtend want toe weet nie een van ons of jy dit gaan maak nie. Mamma het net vir my gesê jy was amper weg, oppad hospitaal toe.

Jy was moeg, het geen geluid gemaak nie . Daar was suurstofpypies onder jou neus en ‘n drip in jou armpie. Dit was eers toe ouma die lappie met olie wat Tannie Lezanne gestuur het, op jou koppie neersit en vir Jesus begin dankie sê het dat jy leef en Hom vra om oor te vat en die gemeente se gebede wat met die sakdoekie saamgestuur is, oor jou uit te spreek, dat jy “Aaaa” begin sê het. Mamma sê dit was die eerste normale geluid wat jy vir die dag gemaak het.

Ouma sê toe sommer;” Ja, Boetie, sê Amen. En almal begin lag. Ouma sien toe net hoe drup ‘n traan teen jou mamma se wang af. Die suster aan diens was nie links nie, en het sommer ook hand uitgesteek en genesing begin spreek. Ouma reken daar in die kindersale is dit seker baie keer nodig om dit oor die ou kindertjies se lewens te doen, en ek was dankbaar vir die Gees in haar.

Ons het gebly so lank ons kon, maar moes toe maar die besluit neem om te groet want ons het gesien jy wil slaap en Mamma het langs jou op die bed gaan lê. Tannie Nadia is toe huis toe na Karelize en Greame toe. Sy was baie hartseer want haar Boeta is vir haar baie kosbaar en sy kinders se lot is baie eg haar eie.

Ek het oor jou gebuk en jou hare geruik. ‘n Soentjie op jou kop geplant en vir myself gesê ek moet nooit vergeet hoe jy ruik nie. Jou wang se gevoel teen my vel. Jou vingers om my hand wanneer ek met jou werk. Jou skewe glimlaggie so deur die moeg, toe ek daardie middag ‘n grappie met jou probeer maak het. Jou suurstof het skoppelmaai gery. Op en af, op en af. Ons het geweet die gevaar is nie verby nie.

Daardie aand het jy baie swaar asem begin haal. Die videos wat Mamma vir ons gestuur het om te wys hoe jy na asem snak het my vreeslik geraak. Ek kon sien hoe swaar jy kry en al wat ons weereens kon doen was om vir Jesus te vra dat Sy wil moet geskied. Soms weet mens amper nie meer hoe jy moet bid nie.

Die volgende twee dae was erg en jy het toe in die ICU beland waar hulle jou met ‘n suurstofmasjien gehelp het om asem te haal. Dr het gesê die skok van die lang epilepsie het jou longe aangetas en dis ook hoekom jy koors van tussen 42 en en 37.9 gehad het, op en af, op en af, skoppelmaai, terwyl jou lyfie koel onder ons hande was en jou voetjies met tye yskoud. Jy lyk soos ‘n ruimteman met die ding oor jou kop. Soos die ouens met die gasmaskers in die tweede wêreld oorlog. En jy veg jou eie oorlog.

So gaan dit die hele week, maar prys die Here daar was beterskap. Jy was bleek en moes weer ysteraanvullings kry, maar jy het dit gemaak.

Die week was om en Pappa en Elri het gaan kuier. Jy moes bly tot na die  naweek want niemand wou jou sonder sekerheid laat gaan nie. Toe ek die foto sien van jou en Pappa met jou hand so oor syne. Veilig in sy arm, kon ek nie anders as om te dink aan die Vader se liefde vir ons nie. Hoe Hy ons ook so vashou en ons liefhet as ons maar net ons hand in Syne wil sit en wil gaan waar Hy weet vir ons die beste plek is. Pappa het gebly tot die Dinsdag oggend en toe is julle almal huis toe.

Die skoppelmaai het tot stilstand gekom. Ons kon almal weer asem kry en ek het net dankie gesê want toe jy huis toe kom, was dit ‘n paar dae voor jou derde verjaardag, en nie een van ons het geweet of jy dit sou kon vier nie.

En dis hoe dit gekom het, dat ek en Oupa die naweek saam met jou kon koek eet. Jy het ‘n Lollos koek gehad en Ouma het vir jou brownies gebak van amandelmeel. En klapperolie sjokolades. Jy mag mos nie gewone koek of lekkers eet nie. Daar was ander mammas en pappas met klein kindertjies aan die hand, wat persente gebring het en saam met julle bly was dat jy kon verjaar. Saam het jy op mamma se skoot die sprinkasteel geniet. Gelag met die maatjies en jou verspot gehou wanneer hulle so baie aandag aan jou gee en op en af met hulle gesonde lyfies om jou spring en tekere gaan.

Mamma was so oulik om te reël dat Lollos en Lettie kom kuier by Sussie se skool ter ere van jou verjaardag, want dit is jou gunsteling storiepop. Saam met Ghoempie is Lollos bo aan jou lys. Sodoende het nie net jy nie, maar baie ander maatjies vanoggend ‘n heerlike tyd gehad.

En so loop die lewe vir Ouma soos die skoppelmaai in die speelpark. Een dag op en anderdag af. En dankie tog vir die Groot hand wat die opligwerk vir ons doen wanneer ons voel ons kan nie self nie. In my hart is vrede. Die son skyn en jy kon Sondag middag saam met jou gesin op die plaas berg toe ry en uit jou mamma se hand aan ‘n suring kou en proe hoe die lewe smaak.

WhatsApp Image 2018-06-12 at 09.11.05

 

Advertisements

6 thoughts on “Skoppelmaai. Herman word 3.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s