Sit eers jou eie suurstofmasker op.

Wanneer die vliegtuig probleme ondervind en die suurstofmaskers uit die dak uit val, sit asseblief eers u eie masker op en dan die van u kind. Wyse opdrag.

Ek is deesdae so besig, dat ek nie kans het om gereeld by my kinders in Citrusdal uit te kom nie. Toe ek onlangs op ‘n Sondag so paar ure saam met Annaline kon spandeer het ek gesien sy kort ‘n suurstofmasker. Sy is moeg. Baie moeg. En wie staan in vir Mamma en kyk verder na Boeta as daai vliegtuig val?

Daar het so baie gebeur sedert verlede Augustus. Na twee jaar se frustrasie met ‘n onbedagsame, vernielsugtige huurder en ‘n uitgerekte hofsaak van tien maande staan ek magteloos voor die Here en gee die huis vir Hom.

” As ek dit moet terug kry, laat die saak asseblief nou tot ‘n punt kom,” pleit ek moedeloos. Toe ek op 7 Augustus 2017 weer staan op die stoep van die huis waar ek vir 17 jaar my kinders in grootgemaak het, kyk om my na al die skade en vullis en ek besluit om nie weer uit te verhuur nie, maar reg te maak en die huis as ‘n selfsorgeenheid uit te verhuur. Sodat my gesin weer die voorreg kan kry om self daarvan gebruik te maak. Self as ‘n familie weer ‘n plekkie by die see te kan hê waar ons kan saamwees, kuier en waar Jaco en Annaline ook met klein Elri en Herman kan kom kuier. Hier waar daar plek is vir die Hyperbaric chamber, ( Ek ken nie die ding se afrikaanse naam nie.) Waar sy badstoel oor die stort se rand kan hang en droogdrup en waar hulle nie elke keer ‘n plaas se geld hoef te betaal om vir ‘n naweek te kan rus nie. Waar hulle sommer gou met die kar kan afry strand toe want dan hoef niemand hom ver te dra nie.

Maar tog, van rus vir Antjie, is daar nie veel sprake wanneer sy wegbreek nie. Want ‘n Mamma kan nie van haar gestremde seuntjie wegbreek nie. Die deel waar Pappa, Sussa, Ouma of iemand anders instaan is nie in skaal met die hoeveelheid tyd wat sy aan hom spandeer nie.

Wanneer Herman moet slaap, moet die huis stil wees. Geen doef, doef op die plankvloere nie, geen harde gelag, of tergery nie. Hoe stiller hoe beter, want die knaap moet slaap en verkieslik sy ma ook. Dit vat soms amper net so lank om hom slaap te maak as wat hy in droomland verkeer. Mamma is te bang om sy program te los vir die naweek want elke oefening is belangrik vir sy brein. Sy probeer pligsgetrou met sy woorde volhou. Sy reuk oefeninge te doen. Sy kos en medisyne op die regte tyd te gee en nog seker te maak hy kry sy uur in die Hyperbaric tussen in. Elke half uur moet die suurstofsakkie oor sy neus getrek word en moet moet hy vir ‘n 30 sekonde tydperk moeiliker asem haal sodat sy longe kan hard werk en sterker kan word.

Wanneer gaste kom kuier en selfs sy eie Oupa by die kamer inloer begin Herman huil. Hy is sensitief vir sekere geluide en baie bang vir vreemde mense. Angstig. Skrik vir skielike geluide. En Mamma probeer daardie situasies vermy, so wanneer ander om die tafel sit en skerts of in die sitkamer kuier moet sy alleen in die kamer met Boetie bly anders is dit ‘n pal gehuil. Jaco los af. Ouma los af, maar Mamma is die een wat die meeste daar moet wees want sy is die een wat presies elke beweging, elke nuanse van sy stem, en elke handeling van sy lyfie ken. 24/7 daar vir hom. Hoe veel verg dit nie?

So nou wil ek weet, hoe kry ‘n mens dit reg om in te staan? Niemand kan nie. Maar Mamma kort haar suurstofmasker. Sy kort wegbreek, rus. Loslaat. Al is dit net vir ‘n paar dae.

Ek het self die afgelope maande baie hard gewerk. Aan daardie huis. Geverf, geskrop, herstel, opgebou en iets begin opbou wat ek met vertroue kan uitverhuur. Dis baie bevredigend. Intussen kom en gaan my man Angola toe en terug huis toe. Tot nou toe. Dis die laaste keer wat hy weggaan. Sy kontrak is klaar. Die werk is gedoen en die hele skeepswerf word opgebreek. Ses honderd mense is oor ‘n tydperk van drie maande huis toe gestuur en hy is een van die laaste tien wat nog instandhouding moet doen. Daar breek binnekort vir ons ‘n nuwe seisoen aan. Een waar ek weer ‘n paradigma skuif in my kop moet maak om te weet my tyd gaan vir altyd nie meer my eie kan wees nie. Waar ek my bewegings moet aanpas by die van my man. En by sy byeboerdery betrokke moet wees. Een van kosmaak, wasgoed en roetine waarvan ek vir amper elf jaar nie meer permanent gewoond was nie. Die roetine wat duisende ander getroue vroue het. Dis net, ek het dit geniet om soms net so op my eie te kan wees. Die ligte te kan afsit soos wat ek wil. dorp toe te ry wanneer ek wil. Op te staan in die nag soos ek wil. Televisie programme te mag kyk soos ek wil. Te eet wat ek wil en wanneer ek wil. Dit was soms my suurstoftye. My ek-mag-wees-wie-ek-wil-wanneer-ek-wil tye.

Met Pieter by die huis voel dit baie keer asof my lewe eintlik maar net sy lewe is. Sy voorkeure en afkeure kry eerste plek. Sy sportprogramme word gekyk. Sy etes word voorberei. My tye moet aanpas by al sy behoeftes en dit maak my opstandig want dit voel asof ek geen selfbeskikking het nie.

Dan gaan sit ek stil en dink dat ek dalk net super selfsugtig geraak het. Dat ek sommer aanneem dit is hoe dit gaan wees. Dat ek nie al hierdie gevoelens met hom gedeel het nie en sommer aanneem dat hy my moet verstaan. Dat ek hom baie liefhet en dat liefde baie dinge verdra. Dat hy eintlik alles in sy vermoë doen om my lewe so gladweg as moontlik te laat verloop. Dat niks wat hy daar in Angola alleen moes beleef net vir hom was nie. Dat dit ook vir my was. Vir ons. Vir die oudag wat op ons albei wag.

Hierdie laat my wonder of ‘n mens nie soms stilbly oor jou gedagtes omdat jy konflik wil vermy nie. Tog, as daar gesprekvoering kan wees sonder beskuldiging kan soveel balans herwin word.

En ek wonder. Ek wonder wat gaan in Annaline se kop aan wanneer sy moeg is. Wanneer sy in die nag min slaap en soggens wanneer Jaco weg is werk toe en tussen ander mense kom en sy lewe min of meer normaal kan voortgaan, alleen met Herman werk. Wanneer sy hoor van sosiale aktiwiteite waaraan sy nie kan deelneem nie omdat sy by Herman moet wees. Wanneer sy graag wil winkels besoek maar nie kan nie want sy kan  nie vir Herman in die winkel ronddra nie want hy trek agteroor as hy opgewonde raak en dan het sy twee hande nodig om hom vas te hou. Daar is nie plek in klerewinkels vir sy rolstoel nie, en hy wil nie lank daarin sit nie. Wanneer hy siek voel en uitslaan of sy longe is aangetas en sy weet sy sal weer ten minste ‘n week in die hospitaal moet spandeer. Alleen. Want Jaco moet werk om die pot aan die kook te hou. Sy wil ook gaan werk maar sy kan nie. Haar kampterein moes sy oorgee aan iemand anders want sy kan nie al die admin hanteer en die kampplek soos in die verlede gaan versorg nie. Haar hele lewe is vasgevang in die lewe van Herman. Die kind wat sy liewer het as haar eie lewe. Maar ook die kind wat soos boeie om haar polse is. Dis daardie frustrasies wat êrens as hartseer opbou, as jy begeertes het om normaal te mag wees maar elke stap, elke besluit van jou dag word bepaal deur iemand anders. Jou wil is nie meer jou eie nie. Dan het jy suurstof nodig.

My alleen tye was my suurstof, meestal. Maar die man wie ek al 38 jaar ken weet nie van al my begeertes nie, want ek praat nie altyd my prate nie. Hy ken nie my hele hart nie want ek is bang ek maak hom seer, of kwaad. Hy moet nie voel ek wil hom nie by my hê nie want ek wil. Regtig. Ek wil net seker wees dat ek soms ‘n suurstofdag gaan kry. My eie tyd. My eie storieskryf, of kuier met vriende, of sommer net slaap oor ek wil tyd. En ek glo hy gaan dit vir my gun. Ek is bederf. Verniet bang. En seker hy gaan ook moet aanpas. Met my by hom die hele tyd. Iemand wat hy ook die hele tyd in ag moet neem. En ek is seker ek moet hom ook suurstoftyd gun.

Ons kan praat, mekaar se tyd respekteer, die toekoms uitpluis en saam daarna uitsien, maar Herman verstaan nie daardie dinge nie. Hy weet net hy kan nie alleen sit nie, alleen eet, of speel of beweeg nie. Hy het sy Ma nodig. En vir Rina, die huishulp, en vir Pappa en Ouma en Oupa en Sussie. Want hy kan niks vir himself doen nie. Nie eers sy eie lepel vashou wat die kos na sy mond bring nie. Al kan hy al woorde lees en dit uitwys. Al kan hy sy kop self regop hou. Al draai hy soms per ongeluk om , en beweeg hy arms en bene. Hy weet nie dat sy ma suustof nodig het nie. Hy weet net, hy het haar nodig. My siel huil. Ek bid dat sy suurstof sal kry. Dat sy baie liefde en genade sal kry. Dat die Here vir haar ook haar slaap sal verdubbel. Die lag in haar oë sal blywend maak. Dat die liefde wat sy vir haar gesin en vir haar seuntjie het driedubbeld na haar sal terug keer.  Ek blaas in die gees ‘n bietjie suurstof na haar kant  toe.

 

 

 

 

 

Advertisements

5 thoughts on “Sit eers jou eie suurstofmasker op.

  1. Dit is regtig ‘n baie swaar lewe wat jou kind ly. Mens het nie raad of woorde nie. Ek kan net se sterkte vir julle. Ek hoop regtig julle kry ‘n oplossing en tot dan gee die Here haar die krag om vol te hou.

    Liked by 1 person

  2. Dit laat my dink aan Jes 40:31 – “Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke. Hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en word nie afgemat nie.” My gebed vir julle is dat die suurstofmasker sal neerdaal wanneer dit nodig is, sodat die mamma kan herlaai en nuwe krag kan kry. Krag wat nooit sal opraak nie, omdat haar liefde vir haar kind groter as haar moeg is. Sterkte vir julle almal. Dit kan nie maklik wees nie.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s