Windverwaai.

End laas jaar net toe ek dink; Nou begin vakansie,  kom ek agter ‘n mens kan nie eintlik rus tensy jy alleen weggaan nie. Of alleen tuis bly nie. Om saam met die kinders te vakanseer( ‘n Woord wat my neef Johan uitgedink het) beteken jy is so te sê semi-permanent aan diens want as een nie honger is nie is die ander dors. Of jy voel skuldig omdat jy nie genoeg help sodat die gestremde een se ouers kan rus nie. Dan voel jy weer sleg omdat jy die ander drie afskeep. As jy alleen was en nie wou eet nie sou dit geen probleem gewees het nie. Om te slaap deur die dag is ‘n onmoontlike saak. Aan die ander kant van die munt is die saamwees lekkerte iets wat net oumas verstaan. Daardie lyfie op jou skoot, of die saampraat oor die kleinspan se vordering. Om te sien hoe die jongste kleinkind alleen met die jogurtbakkie op die skoot sit en die lepeltjie met konsentrasie na sy mond bring, sonder om te mors. Die mylpale waar te neem. Dit gee vreugde.

Vanwee ‘n vieslike sterk wind kon ons die eerste paar dae glad nie by die strand uitkom nie en het dit eers na vakansie begin voel toe ons so teen die derde dag ons koppe by die deur kon uitsteek.

Net toe ons dink die vakansie begin in alle erns kry Herman ‘n epileptiese aanval terwyl hy en sy ma sy oggendslapie neem. Ek en die ander kleingoed is oppad Saldanha toe en onbewus van die drama. Herman en sy ouers jaag inderhaas na die Privaat hospitaal in Vredenburg.

Ek kry die nuus terwyl ek die plante natgooi by die huis. Ouma het dringend kruideniersware nodig, die hoenders moet kos kry en intussen vra die middelste kleinkind tee want sy is nou so dors dat sy nie langer kan wag nie. My hart klop in my keel maar ek weet die kinders is veilig by die hospitaal en die laaste boodskap wat ek gekry het, het aangedui dat Herman rusiger is en dat alles onder beheer is.

Tien minute later daag die mense wat my motorhek se motor moet herstel. Na ‘n paar keer se uitstel besluit ek dis belangrik, hulle moet maar voortgaan met die werk anders sit ouma binne in die erf sonder ‘n manier om die hek oop te kry as sy kuiergaste kry. Hulle moet ook ander afstandbeheerknoppe instel by my huis. Dit is drie vreemde mans in my erf. Ek moet winkel toe ry, want die 84jarige ouma kan nie sonder brood en ander benodighede bly nie. Die kinders is al oor en om die nuwe  kuikens en vra ontbyt. Gelukkig kom haal Ousus hulle.  Sy besluit om haar inkopies uit te stel en liewer na die honde om te sien by die strandhuis want Jaco moes hulle binne in die huis toesluit.

Dalk kry die klomp vroeg klaar by die huis dink ek, dan kan ek gou by die hospitaal gaan draai. Die senuwees knaag maar oor Herman. Gelukkig is Annaline en Jaco al in ‘n mate gewoond aan hospitaal, troos ek myself.

Die werk kom net nie klaar by die hek nie. Intussen bel ousus en vra of ek asseblief die dubbelbedmatras wat sy gekoop het vir die vakansiehuis vir haar kan optel en saambring. Dit genoodsaak my om die kar by die huis te los en met die bakkie te ry. Wat weer veroorsaak dat ek die koelhouers met kos wat moet saamgaan agter op die oop bakkie moet laai en ander los goed soos ‘n stoompot en puzzles vir die kinders voor moet inpak.

Een uur kry ek weer ‘n boodskap. Alles gaan goed by die hospitaal. Dankie tog, dink ek verlig. Ek sou nie nog stress vir vandag kon hanteer nie. Ek ry dorp toe, doen Ouma se  inkopies en ruil haar boeke om. Gaan laai dit by die huis af en maak seker sy is versorg. Die man by die hek sê hulle is nou klaar ek moet asseblief alles kom toets. Dit werk en ek voel hoe die knoop in my maag begin losdraai.

Nou eers alles laai wat moet saamgaan. Reg so, nou gaan ek die  matras laai. Ek kry nie die winkel wat Sus van praat nie. Dis definitief nie op die plek wat sy beduie het nie en ek mors nog twintig minute totdat ek die plek opspoor en ontdek waarom ek dit nie kon eien nie. Die naam het verander. Vuurwarm onder die kraag en op die voorkop help ek die manne om die matras te laai en weer die koelhouers bo-op. Daar waai nou ‘n wind wat my bekommer. Ek voel ek moet by die hospitaal draai maar dink aan al die goed wat net so oop agter op die bakkie staan en gesteel kan word en  besluit dit sal nie wys wees om dit net so te los nie. Ek moet vining in St Helenabaai kom. Jaco laat weet als is reg daar en ek besluit ek ry maar om so gou moontlik klaar te kry dan kan ek weer terug kom.

Ek ry dorp uit en bevind my in ‘n stofstorm tussen Vredenburg en Saldanha wat jou laat dink jy moes ‘n Arabier gewees het. Ek skakel die bakkie se hoofligte aan, en hoor hoe die sand die bakkie se verf afslaan. Annaline bel vanuit die hospitaal. Sy is moeg en soek ‘n bed om op te slaap, waar is ek? Ek verduidelik dat ek in ‘n stofstorm oppad St Helenabaai toe is met die huis se sleutel by my maar as sy wil kan sy by Ouma op haar spaarbed gaan rus, ek is seker sy sal nie omgee nie. Ek besef nie dat sy nie baie tuis voel by ouma nie en eerder wou hê dat ek moet omdraai en haar kom help nie.

Op St Helenabaai wag daar toe deure en ‘n wind wat so erg waai dat ek amper nie die hek aleen oopgestoot kry nie. Die puzzles val uit my hand en waai oor die werf. Ek agterna met ‘n hemp wat opwaai, en my hele maag ontbloot. Teen daardie tyd is ek na aan trane want niemand kom help toe ek roep nie, en die matras moet af. Die puzzles waai onder die bakkie in. Ek bekommer my oor Annaline wat moeg is. Die koelsakke moet trap op gedra word en die hek wil nie oopbly nie.

Toe ek eindelik in die huis kom lê die drie kinders in die bed met ‘n fliek en Ousus aan die slaap in die kamer. G’n wonder niemand het kom help nie. Ek kry my jammerkry gedagtes onder beheer en pak alles uit. Kry dinge in orde en gaan stort om die sand uit my oë te kry.

Dis laat middag en ek kan nie onthou dat ek al iets geëet het nie. My keel is droog en ek maak koffie. Gaan sit vir die eerste keer daardie dag op ‘n stoel en begin my gedagtes bymekaar kry. Sien in my verbeelding hoe dit moes wees vir Annaline om te sien dat Herman fit en hoe Jaco seker weer soos ‘n renjaer oor die 70 spoedbeperking moes jaag. My hart gaan uit na hulle en ek wonder of hulle al behoorlik geëet het. Dalk moet ek hoor of Annaline klere nodig het. Sy sal seker in die hospitaal moet oorbly. Ek sms; Het julle klere nodig, kan ons kom kuier?

Nee wat, ma is mos al hier verby sonder om te kom hoor hoe dit gaan. Bly maar. Ek voel en hoor die verwyt in daardie boodskap. Ek was nie daar toe hulle my nodig gehad het nie.

Ek voel ‘n naar knop van voor af in my maag kom sit. Bel hospitaal toe. Wat kan ek bring. ‘n Kussing en kombers, vra hy. Die hospitaal het nie ‘n bed waar die ma kan rus nie. (Iets waaraan hulle kan werk) Ma moet in ‘n stoel langs die kind se bed slaap vannag. Herman is ‘n spesiale geval. Die kind is breinbeseerd., uiters gevoelig vir vreemde geluide of mans stemme met ‘n growwe klank.  Hy reageer nie normaal soos ander siek kinders nie. Net sy naby-familie kan met hom werk. Maar dis oukei ma hoef nie te kom nie.

My kind is bekommerd, kwaad en seer. Hy reageer met oordrewe verwyt. Ousus maak vinnig vir my ‘n toebroodjie.

“Eet eers ma kan nie so ry nie.” Sy gee my ‘n druk. “Moet nou nie sleg voel nie. Ma weet hy soek iemand om voor kwaad te wees. Hulle ly aan skok. ” Ek kry nie die kos af nie en los dit daar.

Toe ek by die hospitaal aankom vind ek Annaline in trane. Vou haar in my arms toe sonder woorde en verwyt myself dat ek nie maar met goed op die oop bakkie en al by die hospitaal gaan draai het nie. Ek probeer my omstandighede verduidelik. Hoe ek nie die huis kon los sonder toesig nie, dat ek goed moes aanry. Dat hy mos gesê het alles gaan goed. Herman is net in ICU omdat hulle hom deeglik wil dophou want hulle ken hom nie. Maar dit val op dowe ore. My kind voel in die steek gelaat. Ek het hom en sy vrou in die steek gelaat toe ek geweet het hulle het my nodig.

Ek help maar waar ek kan. Hou vir Herman vas, gee sy bottel. Gesels bietjie met Annaline. Gee hulle kans om rustig te raak en vir haar so ‘n gemaklik moontlike bed te maak op die uitskopstoel.

Ek sê nag. Jaco sê hy kom nou-nou ek kan maar ry. En ek ry met ‘n seer hart huis toe. Ek wou my daardie dag in vyf dele sny. Vir Ouma, my huis, die klein kindertjies, vir Ousus wat deur ‘n baie moeilike egskeiding gaan en enkelma moet wees. Vir Jaco en Annaline en vir myself wat so hard probeer het om daar te wees vir almal en alles en ten spyte van my al pogings, daarin geslaag het om my kinders in die steek te laat.

Oppad huis toe praat ek met skoonsus. Sy verstaan hoe moeilik dit soms is om daar te wees. ‘n Mens dink die praktiese goed soos die oppas van die kinders en honde is hulp. Dat die organisasie van huis dinge en ouma dinge en ander aardse dinge die belangrikste is maar eintlik is die liefde en troos dinge die heel belangrikste.

So leer ons maar.

Herman is die volgende middag huis toe gestuur. Hy was moeg en geirriteerd. Alles ‘n nagevolg van die aanval. Ons moes almal op ons tone deur die huis loop. Greame moet buite speel met sy skopfiets. Stadig maar seker het dinge reg gekom. Die wind het gaan lê. Ons kon almal strand toe gaan. Die gemoedere het gesak en kersdagreëlings is getref. Ons was saam, al het ek meestal gewens Pieter kon by my wees. Kersfees sonder my man is aaklig. Hy moes werk daar in Porta Amboim waar hy vir ons voorsiening maak.

Ek het ‘n paar dae later vir ‘n nag by die huis gaan slaap om te rus …

 

 

Advertisements

One thought on “Windverwaai.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s