Eindjaar flitse

Ek verlang na die blad, na skryf. Ek verlang na rus en stilte. Na gemoedsvrede. ‘n Bosveld laatmiddag op Platbos met die geroep van ‘n kwêvoël wat veraf deur die doringbome na my toe aankom. My liggaam protesteer teen die resultate van ‘n baie besige laaste drie maande. soveel om klaar te kry. So baie om te doen en daar te wees vir so baie. Dis soms oorweldigend. Ek wil baie keer ‘n idee ontwikkel. ‘n Storie maak. Onderdruk dan die gevoel sodat dit wat gedoen moet word net kan klaar.

Augustusmaand trek balhorige, vuil en eenvoudig moedswillige vernielsugtige mense uit my huisie by die see. Na twee jaar se nie-betaal en tien maande lange hofstryd kry ek uiteindelik weer toegang tot die huis waarin ek sewentien jaar lank kind groot gemaak het. Begin ek naarstiglik herstel en skoonmaak. Veral skoonmaak. Ek verwonder my dat ‘n man en vrou tussen soveel vullis kan bly en leef sonder dat dit hulle hinder. Binne my bruis die vreugde daarvan om net weer te mag oor begin tussen daardie mure en soos wat die skoonmakery en verfwerk vorder, kom soveel ou herinneringe terug. Toe ons selgroep nog weekliks die lief en leed van mekaar se lewens in daardie sitkamer voor God se voete neergesit het. My kinders se lag en trane. My man se harde werk en ons twee saam. Te veel om op te noem. ‘n Nuwe wens kom skop nes. Dat ons almal, net weer die onskuld en blydskap van daardie tyd kan ervaar. Dat die liefde van Jesus weer tasbaar tussen daardie mure gevoel kan word. Dat al die pyn en verlies en al die seerkry wat my dierbare kinders in die tien jaar wat ons daar uit getrek het ervaar het, net een kant toe geskuif kan word,  en hulle weer kan bly word oor die toekoms.

Een ding weet ek wel, en dit is dat in alles wat in die verbygaande seisoen gebeur het, het die Vader ons nie vir ‘n oomblik vergeet nie. Ons het Hom soms probeer ignoreer. In pyn teleurstelling of woede, gedink dat hy ons nie meer liefhet nie. Tog gee Hy ons altyd weer kanse. Nuwe beginne. Nuwe vooruitsigte. Gee Hy my die wens van my hart. Dat ek weer kan skoonmaak, soos ek daardie huis moes skoonmaak. Dat ek oor kan begin met so baie dinge. Die mure van ons lewens kan ook skoon geverf word. Ons kan nuwe stories skryf.

Hierdie laaste ses maande was vir my baie uitputtend. Fisies en emosioneel. Ek het gespring van moedeloos tot hoopvol tot hartseer tot moeg. Oor baie dinge. In my gesin veral. Maar God kom en herstel my hier teen die einde van die jaar. Ek word bedien by die kerk, en opgehelp deur mede gelowiges. My hart raak heel as gevolg van die werking van die Heilige Gees. Ek begin my vreugde terug kry. My hoop word meer. Ek sien hoe baie van die hartseer dinge eintlik maar net die begin was van ‘n pad van  herstel en nuwe moontlikhede.

Nou nog net vir so paar dae se slaap… Dan wil ek skryf, skryf , skryf.

Advertisements

5 thoughts on “Eindjaar flitse

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s